Local news

Prontuit: Mari deel haar reis met borskanker

Sy is vir vyf jaar in remissie en het vertel dat geloof, gebed en positiewe denke die grootste rol in haar herstelproses was.

Oktober is borskanker maand en met die oog daarop het die HERAUT met ‘n borskanker oorwinnaar gesels.

Mari Rabie (69) het ‘n dubbel mastektomie, ses chemo behandelings en 31 bestralings oorwin.

Haar man Frans is op 8 Junie vanjaar oorlede maar het tydens haar reis met kanker nog geleef.

Hulle het twee seuns en ‘n dogter en woon vir die afgelope 37 jaar in Heidelberg.

Mari was in 2019 gediagnoseer met borskanker nadat knoppe in albei haar borste ontdek was.

Sy het vertel daar was aanvanklik vermoed dat sy slegs bestraling nodig het, maar die uitslag van die biopsies het anders bewys.

“Die biopsies was pynlik en ongemaklik. My linker bors het slegs ‘n knoppie ingehad wat geensins kwaadaardig was nie maar die regter bors het ‘n erge kwaadaardige en aggressiewe kanker gehad en vier kliere moes verwyder word voordat ‘n gesonde klier gevind was,” het sy gesê.

Sy het vertel hoe traumaties dit vir haar was om te hoor haar behandeling het van slegs ‘n paar bestralings verander na chemo en nog bestralings.

“Ek was verpletter en het die vreeslikste vrees aanvalle gekry. Die chemo het my ontsettend moeg en naar gemaak. Die onkoloog het aanbeveel dat ons so gou moontlik die mastektomie moet doen en ook tydens dieselfde operasie die rekonstruksie doen,” het Mari vertel en bygevoeg dat die operasie self nie vir haar so erg was nie en dat sy min pyn gehad het.

Sy getuig ook van haar man en kinders se ondersteuning en dat haar man elke chemo sessie saam met haar bygewoon het.

“Niks was ooit vir hom te veel nie. Menigmaal moes ons seun, Martin ‘n dag verlof neem om ons Netcare Milpark Hospitaal toe te neem aangesien my man op daardie stadium erg met sy oë gesukkel het en nie goed kon sien nie.

“My sussies en vriende was ongelooflik en het alles gedoen wat hulle kon,” het Mari vertel. Sy het verder getuig van die personeel by Netcare Milpark Hospitaal, Suikerbosrand Kliniek en Benoni Onkologie waar die personeel elke tree saam met haar gestap het en in haar oë engele was.

“Die personeel wat my behandel het, het my baie ondersteun. Ek was so bang en het nie geweet wat op my wag nie want die ‘red devil’ chemo, wat een van die sterkste chemo behandelings is, was voorgeskryf. Hulle was net die heeltyd daar en het my moed ingepraat en al die duisende vrae wat ek gehad het beantwoord,” het Mari vertel.

Tydens haar behandeling, het Mari se hare begin uitval en sy het vertel hoe onvoorbereid ‘n vrou daarop is om te sien hoe haar mooi gesonde hare in bosse uitval.

“My man moes nog die laaste donsies met ‘n knipper afsny. Ek huil nou nog as ek dalk ‘n fliek of sepie kyk waar iemand kanker het. Dit is ‘n erg emosionele siekte. Ek was baie siek van die chemo en het bitter swak geword.

“Dit was ‘n uitdaging om aan te trek en myself te grimeer,” het sy gesê en bygevoeg dat ‘n mens nooit enigiets in jou lewe as vanselfsprekend moet aanvaar nie.

“Elke dag is ‘n gawe van God. Lewe elke dag asof dit jou laaste is. ‘n Mens kry min keer die kans om dinge wat verkeerd is reg te maak.

“Wees baie goed vir iemand wat ‘n gevreesde siekte soos kanker het. Daardie mens het dit nodig. Mens kan nooit te veel omgee nie,” het Mari genoem.

Drie weke na Mari se mastektomie moes sy weer begin werk. Vir haar was dit haar redding want daar was min tyd vir dink. Sy het ‘n tipiese week tydens haar reis met kanker verduidelik:

“Ek het die Maandagoggend voor die chemo gaan bloed trek. Die uitslag is dan aan die dokter gestuur. Dinsdag was omtrent heeldag chemo behandeling. Woensdag het ek net gelê. Donderdag weer gaan werk maar ek was baie siek en swak. Ek werk in Balfour. Die eerste Vrydag na die chemo moes ek my man skakel as ek Balfour toe ry sodat hy my kon monitor want teen daardie tyd was ek emosioneel en fisiek doodmoeg.

“Die tweede week het dit effens beter gegaan en die derde week het ek weer bietjie krag gekry en dan was dit tyd vir die volgende behandeling.”

Mari het vir ses chemo behandelings gegaan en moes vir 31 dae elke dag gaan vir bestraling.

Dit was ‘n emosionele en uitputtende reis en dit het haar laat besef dat môre vir niemand verseker is nie. Nie vir die een wat teen kanker baklei nie en ook nie vir die gesonde persoon nie.

“Kry iemand om jou vrese mee te deel, iemand om mee te praat. Kyk na jou borste, of daar enige verandering is. Gaan gereeld vir ‘n mammogram.

Sy is vir vyf jaar in remissie en het vertel dat geloof, gebed en positiewe denke die grootste rol in haar herstelproses was.

“Ek het geglo ek sal gesond word en ek het. My onwrikbare geloof in God en die ondersteuning van my man, vriende en familie het my reis moontlik gemaak.

“Chemo laat sy merk, maar ek is dankbaar dat ek nou gesond is,” het Mari afgesluit.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button