Local news

Prontuit: Saam is ons sterker sê Tania

"Mens leef net een keer en daarom moet jy voluit lewe. Ek is dankbaar vir my man en my gesin en saam geniet ons elke oomblik van wat die lewe ons bied."

Die HERAUT leer die gemeenskap ken en het dié week by een van die dorp se guru’s in die eiendomsbedryf gaan inloer.

Tania Zonneveld (62) is vir die afgelope 24 jaar in die eiendomsbedryf.

Sy het in die Noord-Kaap grootgeword waar sy Upington Hoërskool gematrikuleer het. Daarna het sy klere ontwerp en bestuur gaan studeer aan die Universiteit van Witwatersrand.

Sy het haar eie klerefabriek vanaf 1991 tot 1997 in Rustenburg bedryf en ook bemarking vir Naspers gedoen voordat sy haar in Heidelberg gevestig het.

Hierdie dinamiese vrou is gevra hoe haar pad met die eiendom industrie gekruis het en sy het geantwoord: “Ek was ‘n klein dogtertjie toe ‘n eiendomsagent van my ouers my beïndruk het.

“Dit het ‘n droom geword om eendag eiendomme te verkoop. Toe ek 24 jaar gelede Heidelberg toe getrek het, wou ek nie ‘n oorplasing na Naspers aanvaar nie en het besluit om die kans te vat om my droom te volg.”

Sy het vertel dat sy nie een dag spyt is nie, die buigsame ure geniet en natuurlik om haar eie salaris te bepaal is ‘n bonus.

“Dit is baie harde werk maar die beloning is goed,” het sy bygevoeg.

Tania het nege jaar gelede haar eie maatskappy gestig en het vertel hoe sy met soveel dankbaarheid haar sukses met ander agente kan deel.

Sy is ook deel van die Heidelberg Hoop span en trots op die verskil wat die organisasie maak.

“Besighede en inwoners vat hande en werk saam. Ons verdien om die dorp van die jaar te wees,” het Tania gesê.
Behalwe vir eiendomme het sy ‘n passie vir die lewe en dit doen sy voluit.

Die lewe het al interessante draaie vir haar gemaak, maar een van die beste dinge wat met haar gebeur het is toe sy haar man York in 2023 ontmoet het en dadelik geweet het sy wil ‘n pad met hom stap.

“Om op my ouderdom weer geseën te word met liefde is onbeskryflik wonderlik. Daarvoor dank ek ons Koning Jesus wat ons op mekaar se pad gebring het. Daar is nie ‘n enkele vervelige oomblik in ons lewens nie. Ons het nou gesamentlik 18 kinders, aangetroudes en kleinkinders en dit maak ons skatryk,” het sy vertel.

Tania beskryf haarself as ‘n oop boek en sy deel graag haar hart met die mense naaste aan haar.

Sy word ook deur haar persoonlike assistent beskryf as ‘n dinamiese vrou wat nie op haar sal laat wag om dinge te laat gebeur nie.

In haar vrye tyd, hou sy van lees en geniet goeie films, veral ware verhale.

“Ek is mal oor vakansies en natuurlik om alles saam met my man te doen. Naweke bring ons deur op die dam of op ons driewiel motorfiets,” het Tania vertel. Sy het bygevoeg dat Hartenbos haar geliefkoosde plek is en hulle probeer ten minste om een keer per jaar daar te gaan vakansie hou.

Sy en York hou van reis en haar leuse van voluit lewe sluit in om nuwe plekke oorsee te besigtig, motorfiets saamtrekke aan te pak na plekke in Suid-Afrika waar mens nie maklik sal reis nie en tyd in die water en die natuur te spandeer.

Haar uitgebreide familie is vir haar net so belangrik en hulle saamkoms word gevier met ‘n gebraaide tjoppie en vars slaai, wat haar gunsteling kos is.

Tania se boodskap aan die gemeenskap is dat ons saam sterker is.

“Wees gefokus op die positiewe. In Heidelberg het elkeen die geleentheid om te groei, te leer en mekaar te ondersteun. Heidelberg is ons almal se ruimte; laat ons elkeen se lig elke dag helder laat skyn vir ander. Leef met ‘n oop en vrygewige hand. Kom ons werk almal saam om Heidelberg verder op te bou. Raak deel van hierdie opbouende reis en skakel in by die Heidelberg Hoop organisasie.”

Tania is dankbaar vir haar ryk en vol lewe en op 62 voel sy nog baie jonk van gees en drif.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button