Local newsSport

Berge eindig skaflik in die Merlin Liga

Die prentjie sou heel anders gelyk het as die ligapunte wat hulle teen die Kempton Wolwe en ERU gekry het, kon getel het.

Heidelberg Rugby Klub het op 31 Augustus in hulle laaste groepwedstryde in die Valke Merlin Liga teen Elsburg Rugby Klub te staan gekom.

Die wedstryde was op die Bosman Stadion in Brakpan gespeel.

Heidelberg se eerste span het gewys wat in hulle steek en het Elsburg 22-20 geklop.

Die halftyd was die telling 17-3 in Elsburg se guns.

“In die eerste helfte het Heidelberg die meeste van die speelwerk gedoen maar kon dit nie afrond nie,” het Jaco Jansen van Rensburg, Heidelberg se afrigter gesê.

“Berge het in die tweede helfte hulle voete behoorlik gevind en met mening terug geveg.

“Ons skrum het die oorhand begin kry en dit het toegelaat dat daar meer aangeval kon word om punte op die telbord te kry,” het Van Rensburg bygevoeg.

Die wenpunte was in die laaste minute aangeteken.

In die vorige wedstryd tussen die twee spanne het Elsburg met 29-14 as oorwinnaars van die veld gestap.

Na afloop van die seisoen se wedstryde is Heidelberg se eerste span vyfde in die liga.

Die prentjie sou anders gelyk het as die ligapunte wat hulle teen die Kempton Wolwe en ERU gekry het, kon getel het.

Dié twee spanne was gediskwalifiseer in die Merlin Liga en al die liga punte, wat behaal was teen dié twee spanne, was geskrap.

Heidelberg se tweedes het Elsburg se tweede span met 8-10 geklop.

Berge se tweede span speel op 7 September teen Benoni in die halfeindstryd om te bepaal wie deurgaan om in die finaal te kan speel.

Die halfeindstryd sal op Benoni se veld gespeel word.

Related Articles

Back to top button