Local news

Elvira deel haar passie vir die opheffing van vroue en jong meisies

"My boodskap aan elke vrou is om nooit op te gee nie, te onthou dat jy uniek is en dat jy gemaak is vir meer."

Heraut leer ons mense ken en in die laaste week van Vrouemaand is daar met ‘n deugsame vrou gesels.

Elvira Joubert (38) is ‘n besigheidseienaar, vrou en ma, maar vir haar is die belangrikste dat sy ‘n kind van God is.

Elvira is ’n kampvegter vir Jesus en haar beleid is dat ’n klein vlammetjie ’n groot vuur kan aansteek en dit vergelyk kan word met die klein saadjie wat in iemand se hart geplant kan word wat uiteindelik as gevolg van hierdie saadjie, sy of haar hart vir Jesus gee.

Elvira en haar man Christo is 19 jaar getroud en hulle het twee kinders, Elrie-Ann (9) en Christopher (11). Sy het in Heidelberg grootgeword en sien uit na haar 20 jaar reunie van die Hoër Volkskool matriekklas van 2004.

Elvira het vertel hoe sy en haar man tydens hul wittebrood tot bekering gekom het en sedertdien, soos sy dit beskryf, ‘n geestelike trein van bediening begin het.

“Ons bediening fokus daarop om mense te kry om saam met ons in die trein te klim,” het sy gesê.

In 2012 het hulle met jeugbediening begin, maar Elvira se hart lê by die opheffing van vrouens en jong meisies.

“Vrouwees is ‘n geur wat onvervangbaar en onverwoordbaar is en elke vrou het ‘n unieke identiteit maar soms vergeet ons wie ons werklik is en wat die Here se doel vir ons is, en dit is wat ek wil aktiveer onder vrouens en jong meisies,” het Elvira vertel.

Terwyl sy nog haar eie bemarking besigheid gehad het, het Elvira en Christo tydens die Covid pandemie in 2020 besluit om ‘n koffiewinkel oop te maak.

“Soos die geval is met baie vroue, is daar soveel rolle wat ek moes speel om die bal aan die rol te hou en nadat ek gebid het, het die Here vir my gesê die koffiewinkel vermom is as ‘n bediening en ek my bemarking besigheid moet saai,” het sy vertel.

Sy het in 2021 die opdrag gehoorsaam en haar bemarkings besigheid weggegee.

“Ek is nie vir een dag spyt nie. Ek was gehoorsaam in my geloof en kon fokus op my passie om vroue en jong meisies op te hef,” het Elvira gesê. Sy vertel Crowned International is gebore met die doel om die dogters van Jesus te herstel; een kroon op ‘n slag.

“’n Kroon is ‘n profetiese teken dat ons Koningskinders is. As ‘n vrou neergedruk of afgemat voel en daar word ‘n kroon op haar kop gesit, moet sy haar kop oplig en regop staan.

“In ‘n Bybelse konteks simboliseer ‘n kroon dikwels gesag, eer en beloning. Vir vroue kan dit verskeie diepgaande betekenisse dra soos die herstel van haar identiteit van wie sy in Jesus is en dat sy gemaak is vir meer,” het Elvira vertel.

Elvira bied gereelde kroning funksies aan. Nie een kroon lyk dieselfde nie en elkeen het ‘n unieke betekenis. Sy weet ook nie vooraf watter kroon sy vir wie moet gee nie, maar elke keer as ‘n vrou of jong meisie ‘n kroon kry, dit presies is wat sy op daardie stadium nodig het.

“Ek is net die aktiveerder; Jesus doen die res. My boodskap aan elke vrou is om nooit op te gee nie, te onthou dat jy uniek is en dat jy gemaak is vir meer. Dra jou kroon met trots en weet Jesus het jou gekroon as Sy koningskind,” het Elvira afgesluit.

Related Articles

Back to top button