Local news

Prontuit: Sy bied ‘n veilige hawe vir mensehandel slagoffers

Mama Shalom se hulp word gereeld ingeroep as daar van ‘n mensehandel geval gehoor word.

Die Heraut leer ons mense ken en het hierdie week met Juanita Van Zyl of soos meeste haar ken, Mama Shalom van Shalom Sendingstasie gesels oor die werklikheid van mensehandel.

Juanita is ‘n merkwaardige vrou en veral in Vroue-maand, verdien sy erkenning vir die werk wat sy doen.

Dié inspirerende vrou wat haar lewe daaraan toewy om kinders te help, se hande staan vir niks verkeerd nie en sal alles in haar vermoë doen om te verseker elke kind in haar sorg, die geleenthede kry wat hulle verdien.

Juanita het 26 jaar gelede ‘n opdrag van die Here ontvang om Shalom Sendingstasie te begin.

Sy het in 2000 na die ou Spoorweg gebou in Stasiestraat, Rensburg verhuis met ‘n visie om spesifiek te fokus op die redding en sorg van kinders wat deur mensehandel geraak word.

Mama Shalom het ‘n goeie verhouding met die plaaslike SAPD, maaskaplike werkers en ambassades. Haar hulp word gereeld ingeroep as daar van ‘n mensehandel geval gehoor word.

“Ek is nie bang nie en het met die Here se hulp al vele kinders gaan red uit aaklige omstandighede, vergesel deur vriende wat werk as lyfwagte”, het sy vertel.

Die kinders en soms as daar ‘n ma saam met die kind is, word gaan haal en gehuisves by die Shalom Sendingstasie.

Baie van die kinders, jongmense of ma’s wat gered is uit mensehandel se name word verskuil vir veiligheidsdoeleindes.

“Die ma en die kind word versorg en kry berading om deur die trauma te werk. Sodra die kind reg is, word hy of sy by ‘n skool ingeskryf terwyl daar verskeie vaardighede vir die ma geleer word.

By Shalom Sendingstasie word elke kind met hul huiswerk gehelp en word daar ook verskeie kreatiewe aktiwiteite aangebied om hul talente te ontwikkel.

Projekte word op ‘n gereelde basis gedoen om fondse in te samel vir boeke, klere, kos, skoolvervoer en om aan al die ander alledaagse behoeftes te voorsien.

Juanita se deernis en toewyding maak ‘n groot verskil in die lewens van baie jongmense.

“Ek is dankbaar vir die gemeenskap se betrokkenheid,” vertel sy.

“Ek lewe elke dag slegs met geloof en sonder die hulp van my wonderlike Koning en Verlosser Jesus Christus, sou ek nooit my taak kon doen nie,” het sy vertel en bygevoeg van al die wonderwerk stories wat die afgelope 26 jaar gebeur en steeds gebeur.

Juanita deel graag die wonderwerk stories en moedig enigeen aan om haar by 083 450 8777 te kontak.

Related Articles

Back to top button