Local news

Waar ons begin is ook ons einde

Elsa het Alzheimer’s en is ‘n inwoner van Goue Akker.

Die vorige inwoners van die huis in Freemanstraat 1, wat nou omskep is in die Goue Akker, is na baie jare terug waar alles begin het.

Suikerbos Aftreeoord het die huis in Freemanstraat 1 gekoop en omskep in Die Goue Akker, die oord se nuwe demensie en Alzheimer’s eenheid is, wat sy deure op 1 Junie geopen het.

Dié perseel se eerste eienaars, vele jare gelede, was Piet en Annie Pruis.

Die Pruis egpaar het agt kinders gehad waarvan twee oorlede is.

Een van die Pruis kinders, Piet Pruis het vir ‘n groot gedeelte van sy lewe self in die huis gewoon en het sy herinneringe van die woning met die HERAUT gedeel.

“My pa het die erf van Freemanstraat 1 in ongeveer 1968/9 gekoop en die huis laat bou,” het Piet vertel.
“Dit was ‘n munisipale erf gewees toe my pa dit gekoop het.”

“Na my nasionale diensplig in 1970 by die artillerie eenheid in Potchefstroom het ek self vir ‘n tydperk in die huis gewoon.

“Ek en my vrou Elsa het hier vertoef nadat ons in 1973 in die eg verbind,” vertel Piet verder.

Die egpaar het twee kinders; Marissa (41) woon in Heidelberg en Charl (47) in Roodepoort.

In daardie tyd het my ouers besluit om terug te trek Groenfontein toe en ek het die huis by my ouers gehuur teen R40 per maand.

My pa het later gevra of ek die huis wou koop maar ek het nie die aanbod aanvaar nie.

Piet het toe ‘n huis in Bergsig gekoop.

“Ek was die tweede intrekker in Bergsig op daardie stadium” vertel Piet.

Nadat ek en my vrou na ons huis in Bergsig verhuis het, is die huis in Freemanstraat toe aan Bettie Hall verkoop vir R17 000.

Hall is ook woonagtig in Suikerbos Aftreeoord.

“As ek nou moet terugdink aan my besluit is ek eintlik baie spyt dat ek nie die huis gekoop het,” sê Piet.

Piet se ma het aan Alzheimer’s gelei en Elsa het vir die meeste van die tyd self na haar skoonma gekyk.

Elsa het nou self Alzheimer’s en is een van die inwoners van Goue Akker.

“Soos die noodlot dit wou hê is dit die huis waar alles begin het en sal dit ook die plek wees waar alles eindig.
“Ek vind dit baie moeilik dat ons mekaar nie elke dag kan sien nie; om by die huis te sit en nie Elsa se stem te hoor nie.

“By tye is dit ondraaglik en ek voel op kere verlore, maar wanneer ons mekaar sien is daar net groot blydskap in my hart.”

“Sonder om te aarsel sal ek met graagte plekke met Elsa omruil en die siekte van haar weg neem,” sê Piet.

“Die ergste is ons het drome gehad wat ons wou vervul en hierdie siekte steeln nou daardie drome.

“Dit is ook hartseer dat ons die meeste van die tyd nie met mekaar kan kommunikeer nie en dat Elsa selfs by tye my naam vergeet.” sê Piet verder.

Piet lei aan Parkinson se siekte en vind die hele situasie baie moeilik om te hanteer.

“Respekteer en waardeer mekaar, maak tyd vir mekaar, bederf wanneer jy kan,” sluit Piet mee af.

Related Articles

Back to top button