Local news

Eenheid Suikerbos kyk terug op ‘n goeie jaar

Gaste kon ‘n koek, gebak deur Lydia Botha, geniet ter viering van die SAWV wat op 14 Februarie hul 15de bestaansjaar gevier het.

Die Suid Afrikaanse Weermag Vereniging (SAWV), Eenheid Suikerbos het op 10 Februarie hul algemene jaar vergadering by die ou tronk in Heidelberg gehou.

Lede van die publiek en weermag veterane was genooi om die vergadering, wat ‘n inligtingsessie ingesluit het, by te woon.

Nadat pastoor Morné Ford die opening behartig het, het hy die voorsitter van die eenheid, Frik Van Niekerk, aan die woord gestel.

Frik van Niekerk, voorsitter van SAWV, Eenheid Suikerbos het tydens die vergadering almal aangeraai om by die organisasie aan te sluit – as ‘n lid of ondersteuner.

Van Niekerk het lede bedank vir hul toewyding en veral vir die suksesvolle projekte wat die eenheid in 2023 voltooi het, waarvoor hulle ‘n trofee ontvang het.

“Ons het in een jaar meer as ‘n honderd projekte afgehandel waarvan rolstoele en loopringe, jeugprojekte, pastorale hulp, gemeenskap veiligheidsdienste en water verskaffing tydens watertekorte vir die gemeenskap ingesluit is,” het van Niekerk gesê.

Die eenheid Suikerbos het tans 52 lede.

Lydia Botha wat die administrasie by die SAWV, Eenheid Suikerbos behartig het ‘n koek gebak om die SAWV se 15de bestaansjaar te vier.

“Ons het tans drie veterane wat aan die Gemeenskap Polisie Forum (GPF) behoort en saam met die lede van Heidelberg SAPS werk in belang van gemeenskapsveiligheid,” het Van Niekerk verduidelik

“Ons voorsien kospakkies vir ‘n paar gesinne en doen baie projekte vir die jeug.

“Ons glo soos wat ons lidmaatskap groei, sal ons meer kan doen vir ons lede en ons gemeenskap,” het Van Niekerk bygevoeg voordat hy die mikrofoon aan Albert Grobler, plaaslike besigheidseienaar oorhandig het.
Grobler het genoem dit is van kardinale belang dat die gemeenskap moet saamstaan.

“Dit is tyd dat ons die dorp se belange op ons harte lê en as ‘n gemeenskap saamstaan om die dorp veiliger en skoner te hou,” het hy gesê.

Die trofee wat oorhandig is aan die SAWV, Eenheid Suikerbos ter verering van die suksesvolle projekte wat in 2023 voltooi is.

Hy het die SAWV bedank vir hulle betrokkenheid en ook genoem dat plaaslike besighede reeds besig is met inisiatiewe om die gemeenskap te help.

Karel Groesbeek, voorsitter van SAWV eenheid Nigel was ook aan die woord en het tydens sy spreekbeurt verduidelik waarom die organisasie gestig is.

Hy het genoem die SAWV was in Februarie 2009 gestig met die doel om erkenning te gee vir soldate wat diensplig gedoen het tussen 1946 en Mei 1994.

Hy het almal aangemoedig om Lydia Botha wat die administrasie van die Eenheid Suikerbos behartig, te kontak om aan te sluit as ‘n lid of ‘n ondersteuner.

‘n Plaaslike besigheidseienaar, Albert Grobler, het tydens die vergadering gesê die gemeenskap moet saamstaan om die dorp veiliger en skoner te hou en die eenheid bedank vir hul bydrae.

“Die SAWV is ‘n dinamiese organisasie met gedissiplineerde leiers. Ons is nie ‘n politiese party nie en ons staan vir Christelike waardes,” het hy gesê.

Hy het verder die 20/80 beginsel van die organisasie verduidelik.

“Die SAWV fokus 20% op die verlede en 80% op die toekoms en daarom is die slagspreuk ‘Veterans creating the future’”, het hy gesê.

Hannes Louw, projekbestuurder gemeenskapveiligheid van SAWV, Eenheid Suikerbos het gepraat oor die vaardighede wat vir die jeug geleer word tydens projekte en uitreikings deur die organisasie.

Hannes Louw, projekbestuurder gemeenskapsveiligheid was ook aan die woord.

Louw is veral betrokke by die jeug en hy het vertel van die waarde wat die projekte vir die jeug toevoeg.

“Ons leer die jeug vaardighede wat hulle nie noodwendig op skool leer nie, soos hoe om vuur te maak sonder vuurhoutjies, hoe om in die veld te oorleef, wat om te doen as ‘n slang jou pik en selfs hoe om ketties te maak,” het Louw vertel.

Karel Groesbeek, voorsitter SAWV, Eenheid Nigel het tydens die Eenheid Suikerbos se vergadering gepraat oor die doel van die organisasie en die voordele vir weermagveterane.

Louw het ook Van Niekerk en Groesbeek se uitnodigings om aan te sluit by SAWV beklemtoon.

Die vergadering is afgesluit met ‘n braai en daar was ook ‘n koek wat spesiaal gebak is deur Lydia Botha ter viering van die SAWV wat op 14 Februarie hul 15de bestaansjaar gevier het.

Persone wat meer inligting wil bekom of belangstel om aan te sluit kan Van Niekerk by 079 220 5555 of Botha by 071 438 3002 kontak.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button