CrimeLocal newsNewsBreaking News

Lang arm van die gereg kom misdadigers by

NIGEL - Gevangenisstraf van 97 jaar gesamentlik, is verlede week in Nigel Streekshof voltrek.

 

In die eerste saak het Peter Schalk Grobbelaar (‘n voormalige werknemer van Nigel High School) op ‘n diefstalklag verskyn. Dit volg nadat hy in November verlede jaar ‘n kontantbedrag van R50 645 wat in die skool se bankrekening inbetaal moes word, vir homself gehou het. Grobbelaar het tydens die verhoor op 8 Maart skuldig gepleit en is deur streekslanddros Juan Voogt tot vier jaar tronkstraf (vir vyf jaar opgeskort), gevonnis.
In ‘n ander saak het beskuldigde Sibusiso Tshabangu (24) tereggestaan op klagtes van verkragting en diefstal, nadat hy gedurende die nag van 12 Oktober 2013 by ‘n huis in Duduza ingebreek, ‘n minderjarige meisie verkrag en items uit die huis gesteel het. Dit het ‘n uitgerekte saak tot gevolg gehad en die verhoor het in Desember verlede jaar begin.
Streekslanddros Juan Voogt het die saak wat deur staatsaanklaer Allie Mathebula gelei is, aangehoor. Tydens vonnisoplegging op 10 Maart het Mnr Voogt die beskuldigde tot 18 jaar gevangenisstraf op die klag van verkragting en vyf jaar gevangenisstraf of die klag van diefstal gevonnis. Die hof het ook gelas dat Tshabangu se naam in die nasionale register van seksuele oortreders gelys word.

Tydens nóg ‘n vonnisoplegging op 10 Maart is drie mans gesamentlik tot 65 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Sonnyboy Mabaso (28), Mzwakhe Mcira (27) en Thabo Tshabalala het op afsonderlike klagtes van huisbraak en roof met verswarende omstandighede tereggestaan, terwyl die tweede beskuldigde (Mcira) op ‘n derde klag (verkragting) tereggestaan het.

VOLLEDIGE BESONDERHEDE HIEROOR VERSKYN DIE WEEK IN HERAUT

Die drie mans is op verskeie klagtes skuldig bevind en tydens vonnisoplegging op 10 Maart as volg gevonnis:
* Sonnyboy Mabaso – 20 jaar gevangenisstraf: vyf jaar op die klag van huisbraak; 15 jaar op die eerste klag van roof met verswarende omstandighede; en 15 jaar op die vierde klag van roof met verswarende omstandighede. Die twee klagtes van roof is samelopend.
* Mzwakhe Mcira – 30 jaar gevangenisstraf: vyf jaar op die klag van huisbraak; 15 jaar op die eerste klag van roof met verswarende omstandighede en 15 jaar op die vierde klag van roof met verswarende omstandighede. ‘n Verdere 10 jaar gevangenisstraf is gelas op die klag van verkragting. Die twee klagtes van roof is samelopend.
* Thabo Tshabalala – 15 jaar gevangenisstraf op die vierde klag van roof met verswarende omstandighede.

Related Articles

Back to top button