Local news

Eenheid Suikerbos vier Erfenisdag

Operasie White Dove herdenk gesneuwelde soldate.

Die Suid-Afrikaanse Weermag Veterane Vereniging, Eenheid Suikerbos het Erfenisdag op 24 September by die ou tronk in Heidelberg gevier.

Hierdie geleentheid is Operasie White Dove geheet.

Die idee daaragter was om ‘n gedenkdiens te hou ter ere van gesneuwelde soldate of uniformdraende lede wat Suid-Afrika help beveilig het.

Die simbool van die wit duif is vrede sowel as ‘n nuwe begin en welvaart vir Suid-Afrika.

Die geleentheid was deur Pieter Kok met ‘n verwelkoming geopen.

“Ons is hier ter verering van almal wat diens vir Suid-Afrika gedoen het en die hoogste prys betaal het om vrede in Suid-Afrika te verseker,” het Kok gesê.

“Operasie White Dove word regdeur Suid-Afrika gevier en ons as Eenheid Suikerbos wil ook ons deel doen ter verering van ons gevalle soldate.”

Die tema vir die dag was Verlede/ Hede/ Toekoms. Die verlede is vir almal wat in die verskillende weermageenhede diens gedoen het, die hede is vir almal wat nog ‘n verskil maak asook die jeug van vandag asook die soldate wat oorleef het en gestremd is. Die toekoms is vir die leiers van môre om ‘n verskil in Suid-Afrika te maak.

Kapelaan Gert van Rooyen van Eenheid Suikerbos het die skriflesing en gebed behartig.

Sy boodskap was dat daar versoening tussen die Skepper en skepsel sal wees om vrede te herskep vanuit die verlede tot die toekoms in.

‘n Weermag Alloette helikopter en twee weermag Bosbok vliegtuie het ook tydens die gedenkdiens oorgevlieg.
Michelle de Jager het ‘n weermag grens storie vertel terwyl kapelaan Willem Pretorius die betekenis agter die verskeie proteas verduidelik het.

Hy het gesê elke kleur protea het ‘n verskillende simboliek. Die swart protea is vir waagmoed en uithouvermoë van die gevalle soldate. Die groen protea is vir danksegging vir die soldate wat veilig terug gekeer het.

Die rooi protea is vir die soldate wat opofferings gemaak het sodat vrede in Suid-Afrika kon bewerkstellig word en die goue protea staan vir die moontlikmaking van kern waardes.

Kolonel Karel Groesbeek van Eenheid Vlakvark in Nigel het op sy beurt meer uitgebrei oor die geskiedenis van die Alloette helikopter en Bosbok vliegtuie wat in die weermag gebruik was.

Na die verbyvlug van die vliegtuie het verskeie persone elkeen ‘n protea neergelê ter ere van gesneuwelde makkers in die weermag.

Na die gedenkdiens was daar ook ‘n oorhandiging van die SAWV Sedibeng voorsitter, Mario Smit aan Francois Coreejes van Suikerbos Voortrekkers.

Die oorhandiging is ‘n simboliese gebaar dat die jeug van vandag nie moet vergeet wat in die verlede gebeur het nie en moet voortbou in die toekoms.

Van die skole wat ook die geleentheid bygewoon het sluit in Laerskool AG Visser, Hoër Volkskool en Hoërskool Anker asook die Suikerbos Voortrekker Kommando.

Na die gedenkdiens het kapelaan Ernest Zeelie die geleentheid op gepaste wyse afgesluit.

Related Articles

Back to top button