Local news

Projek sal kinders met kanker bystaan

Die projek is begin met die oog daarop om ander kinders met kanker se stryd makliker te maak.

Leandri van Zijl, ma van die kanker- oorwinnaar Lieben (5) het onlangs ‘n projek van stapel gestuur om ander kinders met kanker by te staan.

“Sowat twee weke voor 15 Maart, die dag wat ons uitgevind het dat Lieben kanker oorwin het, het die idee van ‘n projek my getref,” het Leandri vertel.

“Ek het gebid want ek was bang, ek onthou ek het vir God gesê dat ek weet dat ek nie bang moet wees nie, maar dat ek sukkel. My kop het oortyd gewerk en daar was net soveel hartseer en onsekerheid om ons, maar toe soos ek bid, kom die idee van die projek in my kop.”

Leandri meen dat sy die volgende oggend haar idee, om 15 Maart ‘n goeie dag te maak ongeag Lieben se resultate, op ‘n WhatsApp groep gedeel het.

Lieben van Zijl het op 15 Maart amptelik kanker oorwin.

“Ek wou glimlagte op kanker kindertjies se gesigte sit,” sê Leandri.

“Ek het gemik vir net 10 boksies, 10 kinders en 10 glimlagte vir wie die geveg teen kanker bietjie makliker sou wees.”

Leandri het met die boksie idee in gedagte, ‘n lysie saam gestel van klein dinge wat sy en Lieben tydens hul tyd in onkologie geleer het.

“Dit was dinge wat ons pad in die onkologie-oorlog makliker gemaak het; vir daardie lang tye in die hospitaal,” het Leandri gesê.

Volgens Leandri het die boodskap van dit wat sy wou doen vinnig versprei en binne twee weke, op 15 Maart, kon hulle meer as 200 boksies bymekaar maak en versprei.

Die boksies is vernoem na Lieben, en staan nou bekend as Lieben’s Fight Box.

“Dit was werklik verstommend. God is regtig groot. Die publiek regoor Suid Afrika het ingespring om bydraes te maak, van donasies tot reeds opgemaakte boksies. Dit was regtig spesiaal.”

Jaco van Zijl en Henco van Zijl (8) besig om die boksies te pak.

Met die projek wat so vinnig so groot geword het, het Leandri besef dat sy nie seker was hoe om verder te gaan en die boksies te versprei nie.

“’n Kennis in die veld wat kontak het met al 20 onkologie sale in Suid Afrika het my gehelp met inligting,” het Leandri gesê.

“Waar die hospitale is, hoeveel kinders daar min of meer is ensovoorts. Ons kon toe met iemand reël om die boksies by die hospitale te gaan aflewer.”

Leandri meen dat, omdat die projek so groot geword het, sy besluit het om dit ‘n jaarlikse projek te maak op 15 Maart.

“Ek het weer hulp gevra en kan met blydskap sê dat die Fight Box-projek onder die sambreel van Cupcakes of Hope gehardloop sal word.”

Cupcakes of Hope is ‘n nie-winsgewende organisasie wat spesifiek met kinders, geraak deur kanker, werk.

Leandri meen dat die Lieben’s Fight Box-projek in samewerking met Cupcakes of Hope teen 21 April in werking sal tree vir 15 Maart 2024.

Die Van Zijl gesin se kattebak volgepak met boksies vir die projek.

“As ‘n mens eers ‘n kind sien veg teen kanker is mens se lewe nooit weer dieselfde nie. Hulle verstaan nie waardeer hulle gaan en hoekom hulle so sleg voel nie. Die kleinste goed beteken vir hulle die wêreld en dit maak ‘n groot verskil.

“Ons het geleer met Lieben dat die gemeenskap ‘n mens dra,” het Leandri ter afsluiting gesê.

“Ons het mekaar nodig, en Suid Afrika se kindertjies het ons nodig.”

Enigeen wat betrokke wil raak by die projek, kan vir Leandri by 064 968 0241 kontak of vir Cupcakes of Hope per epos by info@cupcakesofhope.org of by 078 139 4930.

Related Articles

Back to top button