Local news

KYK: “Kanker het my kind gered”

Die van Zijl gesin bedank elke persoon wat vir Lieben gebid het en bygestaan het.

Die ouers van ‘n vyf-jarige seuntjie van Heidelberg se dankbaarheid het op 15 Maart geen perke geken toe hulle meegedeel is, dat hul kind ‘n kankergewas op die brein verslaan het en tans in remissie is.

‘n Kankergewas is sowat ‘n jaar gelede by Lieben van Zijl opgetel.

Die gesin wat in Heidelberg gewoon het, het onlangs na Drie Riviere verhuis.

Die HERAUT het na die goeie nuus die geleentheid gekry om met Lieben en sy ouers te gesels oor die harde en onsekere pad wat hulle die afgelope tyd gestap het.

“’n Mens voel magteloos,” vertel Lieben se ma, Leandri van Zijl.

“Jy wil net jou kind help en sy pyn wegneem, maar mens weet ook daar is nie veel wat jy self vir hom kan doen nie.

“Geloof, saam met die ondersteuning van die gemeenskap en fantastiese dokters het ons deur hierdie stryd gebring en vandag kan ons sê dan Lieben binne ‘n jaar kanker gewen het.”

Kyk: Lieben na sy groot operasie van nege ure.

Lieben se ouers het die afgelope jaar as ‘n emosionele tuimeltrein beskryf, waarvan die laagtepunt was toe die kankergewas uiteindelik opgespoor is.

“Hy het oornag siek geword en die dokters het na ‘n aanvanklike skandering sy erge kopseer en naarheid aan ‘n nie-kwaadaardige sist toegeskryf,” verduidelik Lieben se pa, Jaco van Zijl.

“Na nog ‘n skandering het hulle die sist as ‘n nie-kwaadaardige teratoom gewas geklassifiseer.”

Leandri het aan HERAUT verduidelik dat sy destyds nie geweet het dat Lieben deel van ‘n tweeling was nie.
“Hulle het ‘n stuk maagwand en oog in die teratoom gekry,” sê Leandri.

Dokter Tommy Mbuyane (neuroloog) en Lieben van Zijl in die hospitaal.

“Na die derde biopsie kon hulle uiteindelik vasstel dat dit wel ‘n kwaadaardige kankergewas is.

Die gewas het volgens Leandri binne twee weke van 3cm na 6cm gegroei het, wat vir hulle as gesin angswekkend was.

“Alles was deurmekaar en het so vinnig gebeur en ons moes skielik baie dinge rondskuif rondom dokter en hospitaal besoeke,” meen Leandri.

“Sy ouer boetie, Henco (8) was ook erg geraak deur die hele proses, maar ons is oneindig dankbaar vir diegene in die gemeenskap wat ons ook bygestaan het deur hom op te pas en rond te ry.”

Volgens Leandri was dit, alhoewel dit angswekkend was, ‘n verligting om te weet dat Lieben wel kanker gehad het en dat die gewas nie net ‘n sist was nie.

“As die gewas in sy brein wel net ‘n nie-kwaadaardige teratoom was, sou die dokters nie kon opereer nie en Lieben sou dit waarskynlik nie gemaak het nie,” sê sy.

“Ons het baie kritiek gekry omdat ons vir mense gevra het om te bid dat dit wel kanker is.

“Maar kanker het eintlik my kind se lewe gered.”

Nadat die kankergewas uiteindelik bevestig is, kon Lieben se geveg teen kanker begin.

In ‘n maand en ‘n half het Lieben sewe operasies ondergaan.

“Die grootste van die operasies was op 9 Junie 2022 gedoen,” vertel Leandri.

Die van Zijl gesin, Leandri van Zijl en Jaco van Zijl saam met hul kinders, Lieben van Zijl en Henco van Zijl by die see.

“Die operasie was vir ons ‘n groot besluit omrede dit op sy breinstam uitgevoer is, om die gewas uit te sny en dit kon baie maklik verkeerd loop.

“Ons neuroloog het ons gemaan om mooi oor die besluit te dink omdat daar slegs drie sulke operasies vantevore gedoen is op kinders in die land.”

Leandri meen dat hulle as gesin moes kies tussen die lewensgevaarlike operasie en die tyd wat hulle moontlik kon oorhê met hul jongste seun.

“Op die einde van die dag het ons die operasie goedgekeur en na ‘n operasie van nege ure en baie spanning het ons neuroloog, dokter Tommy Mbuyane van die Alberton Netcare Hospitaal die sukses van die operasie aan ons oorgedra,” sê Leandri.

Na die groot operasie moes Lieben nog agt siklusse chemoterapie ontvang en sowat 30 sessies van bestraling deurgaan.

“Alhoewel Lieben se operasie ‘n sukses was, het hy bietjie breinskade opgedoen wat sy spraak en korttermyn geheue affekteer,” vertel Leandri.

“Maar ons werk met baie goeie terapeute en hy het al baie goeie vordering gemaak.”

Uiteindelik, na byna ‘n jaar van operasies en bestralings het die van Zijl gesin op 15 Maart die goeie nuus ontvang dat Lieben nou kankervry is.

Lieben van Zijl het kanker in ‘n jaar verslaan.

“Ons was so dankbaar dat ons sommer begin huil het,” sê Leandri.

“Na soveel negatiewe aspekte van die kanker geveg, was ons net dankbaar.

“Mens kry nie ‘n puntelys as dit kom by kanker, dat mens weet presies wat wanneer gaan gebeur nie, want elke kanker is anders.

“Ons het baie uit die stryd uit geleer, soos wat dit regtig is om te bid en dat ons moet vertrou.”

Leandri en Jaco meen dat hulle nie genoeg dankie kan sê vir die gemeenskap wat ingespring het om te help waar hulle kon, en die dokters wat vir Lieben op hul hande gedra het nie.

“Dit wys net dat geloof altyd mens deur dra,” sê Leandri ter afsluiting.

“As Lieben se storie een persoon kan terug draai na die Here dan is dit die moeite werd.”

Related Articles

Back to top button