Local news

Behoeftiges sal baat vind by brei projekte

Die gebreide items sal aan gestremdes en bejaardes oorhandig word.

Solidariteit, Helpende Hand se Heidelberg-tak is tans besig met verskeie brei projekte, waarby die gemeenskap ook betrek word.

Die mikpunt hiervan is om behoeftiges te help.

As deel van die projek het die Heidelberg-tak een van die lede, Martie du Plessis, gestuur om by MachKnitz te leer hoe om breiwerk op ‘n breimasjien te doen.

Die Stigterslid van MachKnitz, Adri Grib het self ingespring en du Plessis touwys gemaak met die gebruik van ‘n breimasjien.

‘n Entoesiastiese Martie het reeds twee leer sessies meegemaak en sal in die toekoms nog ‘n les of twee inpas.

MachKnitz is ‘n geregistreerde NPO in Springs, verbonde aan die Departement van Sosiale Ontwikkeling.
Een van die mikpunte van die organisasie is om breiers te help en aan te moedig om nuwe vaardighede aan te leer.

“Die kennis wat Martie opdoen agter die breimasjien kan sy weer aan ander oordra. Dit kan ook altyd as ‘n bron van inkomste ingespan word,” het Patricia Meyer van Helpende Hand se Heidelberg-tak verduidelik.

Helpende Hand is tans besig met ‘n breiprojek om sodoende gedurende April komberse, serpe, mussies en bedsokkies aan gestremdes en bejaardes uit te deel.

Meyer het ook ‘n beroep op die gemeenskap van Heidelberg gedoen vir die moontlike skenking van ‘n breimasjien.

“Indien iemand dalk iewers ‘n ou breimasjien het wat hulle nie gebruik nie en bereid is om aan ons te skenk sal ons dit werklik waardeer,” het sy gesê.

Enigeen wat met die brei projekte wil help, wol kan skenk of meer oor Helpende Hand se ander projekte te wet wil kom kan vir Patricia Meyer by 083 305 3577 kontak.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button