Local news

Ongeluk slagoffer sterk goed aan

Bianca Ras moet nog sekere mylpale bereik alvorens sy ontslaan kan word.

Bianca Ras is besig om goed aan te sterk nadat sy vyf maande gelede in ‘n motorongeluk op die R23 betrokke was.

Bianca, wat nog steeds behandeling in die Netcare Rehabilitasie Sentrum in Auckland Park ontvang het in so ‘n mate gevorder dat sy elke naweek huis toe kan kom.

Daar is nog verskeie mylpale wat sy moet behaal alvorens sy ontslaan kan word.

“Dit bly vreeslik uitdagend. Ek en Ethan (Bianca se broer) moes vir opleiding gaan hoe om Bianca te vervoer van een plek na die ander,” het Bianca se ma, Charmaine Rossouw gesê.

Bianca Ras kan alledaagse take vermag, soos om groente te skil.

“Dit het ook opleiding ingesluit oor beweging by trappe, versorging en basiese hulp wat Bianca benodig.

“Die pad is nog baie lank en daar moet nog baie veranderings aangebring word by die huis om te verseker dat die huis reg sal wees om Bianca permanent te verwelkom.

“Bianca moet so ver moontlik probeer om onafhanklik te word. My kind probeer elke dag baie hard om self goed te doen,” vertel Charmaine.

Charmaine is ook besig om haar haarsalon by die huis in te rig sodat sy byderhand kan wees om vir Bianca al die hulp en versorging te gee wat sy sal benodig.

Bianca Ras by die rehabilitasie sentrum in Auckland Park.

• ‘n Gholfdag vind op 18 November by die Nigel Gholf Klub plaas om broodnodige fondse in te samel vir Bianca se mediese onkoste en terapie.

Belangstellendes kan vir Charmaine by 066 316 2012 of vir Colette by 071 886-3869 skakel.

Related Articles

Back to top button