Local newsNews

LPM gaan geregtelik aangekla word

Rioolbesoedelig nog nie aangespreek nie.

Die HERAUT het verlede week berig oor die feit dat riool, wat afkomstig is van die Ratanda area, direk in die Blesbokspruit geloop het (Sewage flows into spruit).

Die moontlikheid dat dit die gevolg van sabotasie of bloot moedswilligheid was, kan nie uitgesluit word nie.
Willem Sprong, voorsitter van AfriForum Heidelberg, het bevestig dat die Lesedi Plaaslike Munisipaliteit (LLM) by navraag erken dat hulle van die probleem bewus was en dat hulle daaraan sou werk.

Sprong het egter aangedui dat die sperdatum van 13 Mei verstryk het sonder dat die vloei van riool in die spruit gestop is.

Die Departement van Waterwese het ook verlede Vrydag die toneel besoek en beloof om dringend aandag daaraan te skenk.

AfriForum Heidelberg het op 16 Mei ‘n brief aan LLM oorhandig wat daarop gedui het dat hulle 24 uur gegun word om met ‘n plan vorendag te kom om die rioolbesoedeling te stop.

“Indien die situasie nie kort daarna aangespreek sou word nie, sou ‘n kriminele klag teen die munisipale bestuurder asook die burgemeester gelê word,” het Sprong gesê.

Op 17 Mei het Sprong verder bevestig dat riool steeds in die Blesbokspruit loop.

Na aanleiding daarvan het AfriForum Heidelberg ‘n finale brief aan die munisipale bestuurder gestuur.

LLM se hoof van water en sanitasie, Star Moholobela, het op 20 Mei bevestig dat die probleem nou herstel is.

“Ons werk nou aan ‘n plan om ‘n herhaling hiervan in die toekoms te verhoed,” het hy bygevoeg.

Met verdere ondersoek het dit aan die lig gekom dat daar verskeie items uit die pyplyn gehaal is, wat rotse, ‘n opgerolde veermatras en nog vele meer ingesluit het.

Ondersoek word nou gedoen om vas te stel of dit moontlike sabotasie was of bloot net moedswillige optrede.
Sprong het ook die moontlikheid van sabotasie bevestig.

“Ons eis nou dat die LLM rehabilitasie sal toepas waar die probleme ontstaan het, en ook waar die riool oor die veld gevloei het,” het Sprong gesê

Related Articles

Back to top button