Local sportSport

Haasbroek groet Heidelberg met ‘n laaste oorwinning

Haasbroek vertrek binnekort na Windhoek, Namibië waar hy sy passie vir die sport ten volle by ‘n gholfskool gaan uitleef.

Bittersoet is hoe die gevoel wat by Andy Haasbroek (junior) geheers het toe hy by die 18de setperk van Heidelberg Gholfklub afgestap het, beskryf kan word.

Die oud-Volkie het op 3 Maart sy kroon as klubkampioen met ‘n bruto-telling van 154 (146 netto) behou , maar weet goed dat dit die laaste keer sou wees dat die eer syne is.

Haasbroek vertrek binnekort na Windhoek, Namibië waar hy sy passie vir die sport ten volle by ‘n gholfskool gaan uitleef. Sy doelwit is om beroepspeler te word en as hy in dié doelwit slaag, sal hy nie weer as amateur op die baan waar sy liefde vir die sport gekweek is, kan speel nie.

Also read – Gholfers swaai stokke ten bate van Heidelberg DBV

Haasbroek het as kind reeds groot naam gemaak en was skaars klaar met matriek toe hy sy eerste senior klubkampioenskap titel verower het. Dit was vir lede van Heidelberg Gholfklub ook nie maklik om van die jong man wat onder hulle voete grootgeword het, afskeid te neem nie en hulle het hom alle voorspoed vir die toekoms toegewens.

Daar is egter talle opkomende spelers wat graag sy voorbeeld wil volg en dit kon in die strawwe kompetisie vir die junior kroon by die jaar se kampioenskap gesien word.

Die beste junior speler tydens die klubkampioenskappe was Phillip Lutje en hy het met ‘n bruto-telling van 172 (156 netto) sy afdeling gewen.

Also read – Nigel Tuiste vir Bejaardes se gholfdag

In die vroue afdeling het Sonja Pretorius haar stempel afgedruk en sy is met ‘n bruto-telling van 180 (152 netto) as klubkampioen gekroon.

Hannes Joubert het die vlag vir die senior spelers laat wapper. Hy het met ‘n bruto-telling van 167 (145 netto) die res van die meer ervare manne uitgestof.

 

Volg ons op:

Related Articles

Back to top button