Oom Schalk Lourens in Afrikaans by Carnival City

Kom sien vir Oom Schalk Lourens.

‘n Gesoute akteur en deesdae die karakter Oom Wimpie in Binnelanders is Paul Lückhoff, Suid-Afrika se nuwe oom Schalk Lourens, die geliefde karakter wat Herman Charles Bosman jare gelede geskep het.

Oom Schalk Lourens se Mampoerstories is vroeër vanjaar tydens die jaarlikse Clover Aardklop Nasionale Kunstefees bekendgestel, en vir die eerste keer in Afrikaans.

Dit is verwerk en vertaal deur Frans Swart, wat ook die regie van die produksie hanteer.

Oom Schalk Lourens se Mampoerstories speel in die Madri Grasteatner by Carnival City af, op Vrydag, 29 Mei, om 8nm.

Herman Charles Bosman se oom Schalk Lourens het deur die jare volksbesit geword en Patrick Mynhardt het hom vir jare op die verhoog uitgebeeld, maar oom Schalk het nog al die jare Engels gepraat.

Vir die eerste keer in die geskiedenis praat hy nou egter Afrikaans.

“Ek het vir jare saam met Patrick Mynhardt gewerk en oom Schalk Lourens het my nog altyd gefasineer,” sê Frans Swart, regisseur van Oom Schalk Lourens se Mampoerstories.

“Oom Schalk Lourens is ‘n bobaas storieverteller, maar ook ‘n persoon wat die Groot Marico en sy mense baie lief het.

“Hy is ook baie lief vir mampoer en ook vir meisies.

“Herman Charles Bosman het sy karakter so goed omlyn en sy stories is so goed geskryf dat mens voel of jy in die Groot Marico is.

“Gooi daarby die wonderlike talent van Paul Lückhoff en jy het ‘n trefferproduksie.

“Paul verstaan die kuns van storievertel en hy het ‘n transformasie ondergaan en het oom Schalk Lourens geword.”

Teatergangers kan uitsien na bekende en minder bekende oom Schalk Lourens stories soos, onder andere, Willem Prinsloo se Perskemampoer, Die Jubabessie, Die Musiekmaker en Die Bekkersdal Marathon.

“Wat my veral ook beïndruk van Bosman se storievertelling is dat baie van die stories tot vandag toe so aktueel is. ‘n Goeie storie bly altyd ‘n goeie storie en oom Schalk Lourens KAN stories vertel,” sê Swart.

Oom Schalk Lourens, ’n doodgewone Boer, wat eintlik ’n meester van oorlamse dubbelsinnigheid is, vertel hierdie stories oor die oorloë en liefdes, gelowe en bygelowe, onkunde en wysheid, vooroordele en insigte, deugde en sondes van ’n plattelandse Afrikaanse gemeenskap.

Dié stories, met so ‘n slukkie mampoer op sy tyd, het van die skrywer Herman Charles Bosman ‘n huishoudelike naam gemaak.

Hierdie briljante, poëtiese stories is vol satire, sentiment, realisme, romanse, ironie en geïnspireerde gekskeerdery en is vir die eerste keer in Afrikaans op die verhoog.

Other events at Carnival City:

Top soul musician to take to the stage at Carnival City

 

Exit mobile version