Nuwe hoof sal skool na die toekoms lei

Groot verbetering kom vir Hoërskool Elspark.

Jan van Niekerk, Hoërskool Elspark se nuwe hoof, hoop om die skool met meer dissipline te lei en beoog om groot veranderinge by dié Germiston skool aan te bring.

Van Niekerk is in Kaapstad gebore, maar het in Primrose groot geword waar hy Laerskool Die President bygewoon het en later aan Hoërskool Vryburger gematrikuleer het.

Hy het sy onderwys loopbaan by Hoërskool Kempton Park in 1987 begin en as adjunkhoof by Benoni High School gewerk voor hy die pos as skoolhoof by Hoërskool Elspark aanvaar het. Van Niekerk, ’n getroude pa van twee, glo dis ’n voorreg en sien daarna uit om die skool se akademie, kultuur en sport te verbeter.

Buiten die nuwe Elspark Krieket Akademie, aangebied deur die bekende Zimbabwiese krieketspeler Matthew Townshend, gaan Hoërskool Elspark vanaf volgende jaar die volledige nuwe tegniese studierigting saam met die akademiese- en ekonomiese studierigtings aanbied.

Die skool is deur die onderwysdepartment geïndentifiseer om die nuwe tegniese vakke wat bekend gestel is aan te bied en is die enigste skool in die omgewing wat naas houtwerk ook vakke soos sweis-en-metaal, motorwerktuigkunde en elektronika gaan aanbied.

“Ons sentrums word spesiaal ingerig om die praktiese komponent van hierdie vakke te akkommodeer,” het Van Niekerk gesê.

“Leerders kry reeds in graad agt en nege die geleentheid om in hierdie sentrums te werk en word sodoende voorberei vir hul vakkeuses in graad 10. Tegniese wiskunde en tegniese wetenskap is nog twee vakke wat bekend gestel is en sal volgende jaar vir die eerste keer in graad 10 aangebied word.”

Op 15 Augustus bied die skool ’n loopbaanuitstalling vanaf 8vm tot 1nm aan.

Gratis aanlegtoetse sal beskikbeer wees vir leerders. Die uitslae sal professionele advies insluit en behoort binne twee weke gereed te wees.

Alle graad sewe, agt en nege leerders word uitgenooi om te sien wat Hoërskool Elspark te bied het.

Om ’n plek te bespreek skakel 011 893-2013.

 

Jy kan ook lees:

Hoërskool Elspark aanbied inligtingstegnologie

Hoërskool Elspark se o-14’s maak hokie geskiedenis

Exit mobile version