Local newsNews

Die Doppers trek alweer

Drie kerke werk saam.

Op Sondag, 2 Maart, begin ‘n nuwe fase in die geskiedenis van ‘n kerk wat reeds diep spore in die Oosrand getrap het.

Die lidmate van die Gereformeerde Kerk Germiston (alom bekend as die Doppers) sal dan vir die eerste keer sedert 1933 nie in hulle eie kerkgebou vergader nie.

Dit is die gevolg van samewerking tussen drie kerke wat vir baie jare langs mekaar bestaan het, sonder dat daar eintlik enige kontak tussen hulle was – die Gereformeerdes, die Evangelies Lutherse Kerk en Dunamis International Fellowship Church.

Dit het begin toe Dunamis die kerkraad van die Gereformeerde Kerk genader het oor die moontlikheid om die kompleks te huur.

Vir die Doppers was dit ‘n goeie geleentheid, aangesien hulle getalle so min geword het, dat dit moeilik was om die kompleks te onderhou.

Maar dit het ook vir hulle ‘n probleem geskep.

Waar sou hulle ‘n geskikte plek kry om hulle eredienste te hou?

“Wat van die Lutherse Kerk net oorkant die straat?” het iemand gevra.

Dit het gelei tot ‘n ooreenkoms waardeur die Gereformeerdes om 8vm op Sondae die Lutherse kerkgebou vir hulle dienste benut, terwyl die Lutherane steeds om 10vm en om 11.15vm hulle dienste hou.

Hierdie verskuiwing is vir baie van die gereformeerde lidmate ‘n traumatiese gebeurtenis, veral vir hulle wat al geslagte in hierdie gemeente is.

Immers, die groot wit kerk in Piercylaan, ook bekend as “die kerk in die veld”, is sedert 1977 al ‘n baken in die omgewing.

Dit is opgerig toe die staat die ou rooi kerk in Joubertstraat uitgekoop het, om die hospitaal te vergroot.

Die rooi kerk was egter nie die gemeente se eerste kerkgebou nie.

Voor 1910 al is ‘n sinkdakgebou in Middelstraat opgerig, wat tot 1933 die tuiste van die gemeente was.

In daardie jare het dit maar moeilik gegaan met die gemeente.

Die lang stakings van die myners herinner baie aan vandag se gebeure.

Geld was skaars en op ‘n stadium kon die gemeente nie meer alleen die predikant bekostig nie.

Dit het ‘n lidmaat onlangs laat opmerk: “Ons het klein begin en soms swaar tye beleef.

“Ons kan weer klein begin.

“As elke lidmaat in geloof hulle deel doen om saam te werk, weet ons dat die Here ons sal seën en laat groei, veral as oud-lidmate wat nog in die omgewing woon, weer by ons wil aansluit.

“Kom kyk wat doen ons.

“Julle sal verras wees.”

Hierdie seën van die Here is duidelik wanneer mens kyk na al die gemeentes wat sedert die gemeente se ontstaan in 1905 daarvan afgestig het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button