Lifestyle

Laat die kurke klap vir Klein Roosboom se vlagskip borrels

Die wyne is ’n viering van die De Villiers-familie se herkoms en passie en die plaas se nabyheid aan die see.

Die wynmaker, Piti Coetzee het hom uistekend van sy taak gekwyt en die nuwe vlagskip My Way Brut Nature 2019 en My Way Brut Rosé 2019 het reeds voor hul vrystelling die hoogste lof ontvang: Die Platter-wyngids het vier sterre aan die My Way Brut Rosè toegeken, en vier en ’n half sterre aan die My Way Brut Nature. Albei wyne het goud ontvang by die 2022 Michelangelo International Wine & Spirits-toekennings en die Rosé, Goud by die Rosé Wine and Spirits Challenge. 

 


Wynmaak by Klein Roosboom het in 2007 begin met matriarg Karin de Villiers, wat een doel voor oë gehad het – om haar eie vonkelwyn te maak. Nou, 16 jaar later, het die familie die My Way vonkelwyne by hul breër wynportefeulje gevoeg wat reeds die Marné Brut Cap Classique insluit. 




Die De Villiers-familie het Klein Roosboom van ’n nederige begin laat groei tot ’n groot gunsteling op die Durbanville Wynvallei-roete. Hul omskepte sementkuipe met elkeen ’n ander tema, is gewilde kuierplekke om wyn te proe. 

“Dit is ’n baie spesiale geleentheid vir ons,” het Karin by die funksie vertel. “Ons wyne is tradisioneel na familielede vernoem. Die My Way-reeks bring egter hulde aan my pa, wat mal was oor die My Way-liedjie wat deur Frank Sinatra bekend gemaak is. 


“Die besluit om twee borrels te maak wat waardig is om die My Way-etiket te dra, het in 2019 begin. Ons wou baie spesiale verpakking en etikette hê, so ’n spesiale bottel is ingevoer, en die bekende ontwerper en illustreerder, Hannes Koegelenberg het die ontwerp hanteer. 

Hannes het antieke illustrasies met klassieke elemente en lettertipes gekombineer om ’n elegante en tydlose ontwerp te skep. Verskeie subtiele insluitings weerspieël die Klein Roosboom-verhaal. “Die gebruik van engeltjies, wat met wynvate en blomme baljaar, gee ’n speelse perspektief,” sê hy. 

“Saam weerspieël die ontwerp die ouwêreldse sjarme en kontemporêre passie, wat werklik opsom waaroor Klein Roosboom gaan.” 


Slegs 2 890 bottels van die 2019 My Way Brut Nature en 1 350 bottels van die 2019 My Way Brut Rosé is vervaardig. Gaste kon met hul aankoms op die plaas ’n klok lui en dan het ’n gehandskoende hand yskoue vonkelwyn deur ’n gat in die muur aangegee. 

Heerlike happies wat die vonkelwyn komplementeer het, is deur sjef Lorianne Heyns en haar span voorberei. 



Ander wyne van die My Way-reeks sluit in ’n Sauvignon Blanc van 35-jaar-oue boswingerde, ’n vat-seleksie rooi versnit en ’n Petit Verdot. 


 

Foto’s: Clifford Roberts en Klein Roosboom 

Die artikel Laat die kurke klap vir Klein Roosboom se vlagskip borrels het eerste in Rooi Rose verskyn.

Related Articles

 
Back to top button