Skok na VF Plus-leier se skielike afsterwe

Marcelle Maritz, die provinsiale leier van die Vryheidsfront Plus (VF Plus) in Limpopo en die party se enigste lid van die provinsiale wetgewer, is Vrydagaand, 4 Oktober onverwags oorlede.

Maritz (59) het in haar huis inmekaar gesak, vermoedelik weens ’n beroerte, het Wouter Wessels, woordvoerder van die VF Plus gesê.

“Sy het die afgelope tyd met haar gesondheid gesukkel en het verlede jaar ’n ligte beroerte gehad. Hierdie was steeds vir ons baie onverwags, want haar gesondheid het baie verbeter, ” het hy gesê.

Maritz het oor baie jare heen diep spore in die Waterberg-gemeenskap getrap.

Sy was vroeër jare betrokke by die bestuur van die dierebeskermingsvereniging (DBV) in Mokopane, voordat sy haar tot die politiek gewend het en as raadslid in die Mogalakwena-munisipaliteit gedien het. Sy is sedert 2019 die VF Plus se leier in Limpopo.

Plaaslik het inwoners haar leer ken waar sy betrokke geraak het met munisipale tameletjies soos die kommer oor riool wat in die Klein Nylrivier beland. Sy het klagtes by die Groen Skerpioene hieroor aanhangig gemaak.

Maritz was altyd op haar pos om die families wat deur plaasaanvalle geraak is, te besoek en te ondersteun.

Maritz laat haar ma Joan, haar dogter Mariska en seuns Martin en Johann agter.

Slegs ’n week gelede het sy in ’n Facebook-plasing gesê dat sy dankbaar was om tyd saam met haar kleinkinders in die Kruger-wildtuin te spandeer en baie uitsien na haar eerste besoek in sewe jaar aan haar seun, skoondogter en kleinseun in Nieu-Seeland.

Neels Pretorius, ’n VF Plus-raadslid in die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het gesê dat Maritz was passievol oor haar werk en het nie geskroom om ’n probleem aan te spreek nie. Rdl. Johan Prinsloo het gesê dat hoewel sy ’n dinamiese vrou was, het sy ’n sagte hart gehad wat geen mens of dier in nood kon los nie.

Rdl. Jee Dee Cloete van Bela-Bela het gesê hy het haar leer ken as ’n vrou wat net eenvoudig vir niemand terug staan nie.

“Sy was gevestig in haar geloof en was onwrikbaar soos beton, vir haar volk se beskerming.”

Rdl. Marita Louw van Mookgophong het haar as ’n onselfsugtige, vurige en hardwerkende leier ervaar.

”Sy sou ten koste van haarself haar medemens dien. Dit was nooit te laat in die aand om haar te bel nie.”

’n Roudiens word Vrydag, 11 Oktober om 14:00 vir Maritz op die A-rugbyveld van Hoërskool Piet Potgieter in Mokopane gehou.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button