Nuwe hospitaal word hier beplan

Te midde van planne vir die oprigting van ’n privaathospitaal in Modimolle, is inwoners van ’n aftreeoord glo bekommerd dat die toegangspaaie steurend sal wees.

’n Lisensie vir ’n 120-bed hospitaal wat bestaan uit ’n mediese en sjirurgiese afdeling met 40-beddens elk, ’n pediatriese afdeling met tien beddens, ’n intensiewe sorgeenheid met tien beddens en ’n 21-bed dageenheid en twee teaters, is verlede jaar toegestaan aan die Waterberg Healthcare Hub.

Die Waterberg Healthcare Hub bestaan uit ’n aantal plaaslike sakelui sowel as ander beleggers. Hoewel daar aanvanklik gehoop is om die hospitaal in die middedorp op te rig, is twee erwe onlangs bekom op die Koro Creek-gholflandgoed en by die Kokanje-aftreeoord. Dit is hierdie erwe by die aftreeoord waaroor inwoners glo bekommerd is.

Een van die inwoners het aan Die Pos gesê dat hulle ’n skrywe aan die oord se direksie gerig het, waarin hulle vra dat ’n spesiale algemene vergadering belê word sodat inwoners die saak kan bespreek en hul besware kan opper.

“Daar was nog nie ’n geleentheid vir inwoners om te sê hoe hulle oor die saak voel nie. Kokanje moet nog die vervreemding van een van die erwe goedkeur wat vir die ontwikkeling gebruik sal word. Ons wil nie regtig ’n privaathospitaal op ons voorstoep hê nie, want ons voel dit sal die rustigheid en karakter van die aftreeoord beïnvloed. Ons verwelkom die hospitaal, maar stem nie saam met die voorkeurligging nie.”

Die inwoner sê een van die bekommernisse is dat Kokanje nie meer die toegangspad sal besit nie, hoewel daar ’n serwituut sal wees.’n Toename in verkeer by die ingang en moontlike stakings kan probleme skep.

Volgens Wiets Botes, besturende direkteur van die Waterberg Healthcare Hub, glo hulle nie dat dit ’n probleem sal wees nie. “Sou die ontwikkeling op daardie erwe plaasvind, sal die ingang teen die R33-pad wees, ongeveer waar die pannekoekstalletjie tans staan. Daar sal nie verkeer naby die huise wees nie,” het hy verduidelik.

Hy het ’n lugfoto verskaf wat aandui waar die hospitaal moontlik geleë kan wees. Dit is reg langs die R33-pad wat Vaalwater toe gaan, tussen die Koro Creek-gholflandgoed en die Kokanje-aftreeoord.

“Daar is ook ’n stuk grond reg oorkant die R33-pad aan ons beskikbaar gestel, wat ons moontlik kan gebruik. Ons lisensie is toegeken aan die Waterbergstreek – ons kan die hospitaal ook in ’n ander dorp oprig sou dit nodig wees,” het hy gesê.

Die nuus dat ’n privaathospitaal in die omgewing opgerig gaan word, was verlede jaar met ope arms verwelkom. Sedert die Phodi Clinic in Bela-Bela sy deure in 2022 gesluit het, moes inwoners

Pretoria, Mokopane, Lephalale of Polokwane toe reis. Dit het ook ’n wesenlike probleem geskep wanneer ernstige noodgevalle nie dadelik hulp kan verkry nie, maar eerder met ’n ambulans na ’n naaste hospitaal geneem moet word.

Die Pos het verneem dat planne om ’n privaat-ambulansdiens te vestig reeds ver gevorder is en dit moontlik reeds voor die einde van die jaar aktief kan wees.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button