Klein Treetjies groet ná dekades se diens

Ná talle dekades waar kleuters ’n veilige tuiste weg van hul huis af gevind het in die week, sluit Klein Treetjies-kleuterskool in Modimolle hul deure op Woensdag, 31 Julie. Die skool, wat aan die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) behoort, het in Junie sy 58ste bestaansjaar gevier.

Volgens Cindy Janse van Rensburg, wat die afgelope twee maande waarneem as skoolhoof, het die leerdertal afgeneem en is die skool die afgelope jaar nie meer winsgewend nie. Die gebou sal uitverhuur word, maar bly die eiendom van die SAVF.

’n Hele aantal generasies oud-Nylstromers het hier in die sand gespeel, op driewiele rondgery en geleer om tussen die lyne in te kleur. Die skool, wat eers in Tamsenstraat geleë was, was aanvanklik bekend as “Die Wieg” en het net na babas omgesien.

Die aanvraag na versorging vir kleuters het gegroei en Klein Treetjies het sy deure in 1966 geopen met dertig kleuters.

In die skool se ou joernale lui een van die eerste inskrywings: “Ons het 25 motorkarretjies, kastrolle en ’n elektriese ketel present gekry. Die buitebandswaaie is uiteindelik opgesit tot die kinders se groot vreugde.

Ons het vrugte present gekry en die stukkende glybaan is reggemaak. Ons het ook poppe present gekry.” Die eerste skoolhoof was ’n Mev. Alberts.

Die skool het met die tyd uitgebrei en in 2007 is ’n groot vertrek aangebou om as eetsaal en slaapgedeelte diens te doen. In 2012 is ’n nuwe kombuis aangebou. Die skool het verlede jaar kringtelevisiekameras geïnstalleer en is nuut oorgeverf.

Daar is omgesien na babas van vier maande oud tot en met kleuters van vier jaar.

Daar is ook graad RR en graad R-klasse en ’n na-sorgsentrum gewees vir kinders wie se ouers voldag werk.

Vir meer as drie dekades was Elmarie van Wyk aan die stuur van die skool. Sy het verlede jaar ná 32 jaar as skoolhoof, afgetree.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button