Entertainment

Rienie se koffieblikke bring vreugde

Die bekende Amerikaanse evangelis en oud-senator, Jesse Jackson, het eenkeer gesê: “As jy agter raak, hardloop vinniger. Moenie opgee nie, en styg uit bo alle verwagtinge.”

Die lewe het al vir Rienie Olivier van Bela-Bela ’n paar harde klappe gegee, maar sy is nie iemand wat sommer net gaan lê nie. Vir haar is ‘gee’ en ‘omgee’ sinoniem, en vir haar vlytige hande staan niks verkeerd nie.

Met baie min in die lewe het sy al op die rand van die afgrond gestaan en in die duisternis gestaar. In 2014 is sy deur ’n pofadder gebyt, en na sewe maande in die hospitaal, was dokters radeloos en moes hul noodgedwonge haar been amputeer. Vir Rienie was dit ’n enorme slag, en sy het nie geweet hoe sy sou aangaan nie.

Dit was tot die dag wat ’n vreemde drie been rondloper hond by haar deur opgedaag het en sy sê: “Ounooi, my Liewe Jesus kind…was my redding.

” Sy het die hond ingeneem, versorg en die onvoorwaardelike liefde wat Ounooi getoon het, het vir haar die aanmoediging gegee om haarself op te tel en het besluit sy wil ’n bietjie vreugde vir ander bring.

Sy het betrokke geraak by ’n projek van Debbie du Plessis, van Pretoria, wat in haar omgewing blikke met klein geskenkies aan hawelose mense oor die Kerstyd versprei.

Met naaldwerk as ’n passie en ’n gegewe talent, versier Rienie koffieblikke wat dan met allerhande geskenkies en noodsaaklikhede gevul word. Die pragtige blikke word dan aan bejaardes in ouetehuise geskenk en ook aan minder bevoorregte mense. Die blik op sy eie is ’n kosbare geskenk en hul harte verbly as hul sien dat die sieraad nog gevul is met noodsaaklike items ook.

Sy het aan Die Pos gesê dat sy na ra-ming al meer as 600 koffieblikke opgetooi, gevul en versprei het. Die dankbaarheid wat sy ervaar van die ontvangers, is vir haar genoeg aanmoediging om aan te hou met die projek. Dit neem haar ongeveer drie dae om ’n stel blikke te voltooi. Sy sê dat dit vir haar ‘betaling’ is, as sy kan sien ander dink dit is ongelooflik wat sy met haar twee hande vermag het.

Haar droom is om nog ’n projek te begin waarby minder bevoorregte kinders kan baat. Sy het baie deernis vir kinders wat swaarkry.

Rienie is altyd opsoek na koffieblikke, en sy reken sy sal nooit genoeg hê nie. Daar is maar altyd ’n tekort en sy sal enige skenkings van groot koffieblikke baie waardeer. Kontak haar gerus as jy dalk ’n bydrae wil maak by tel. 084 819 0591 of Debbie du Plessis by tel. 084 558 9394.

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button