Steri Drive in Mookgophong groot sukses

Die Naboomspruit-dierebeskermingsgroep in samewerking met die staatsveearts van Mokopane, dr. Nicola Jacobs, het op Dinsdag 9 Januarie ’n projek in Mookgophong geloods, genaamd Steri Drive, waartydens diere teen ’n verminderde bedrag gesteriliseer kon word.

”Die doel was om te voorkom dat ongewenste werpsels rondloper diere word en dikwels op straat beland. Hierdie verwaarloosde diere het ’n geweldige probleem geword en ons kan nie voorbly om vir hulle huise te soek nie”, het Miekie Oberholtser, voorsitter van die organisasie aan Die Pos gesê.

Tydens die projek het agt veeartse die dag hard gewerk en 26 honde en katte is gekastreer of gesteriliseer. Guy en Agathe O’Callaghan het hulle perseel gratis beskikbaar gestel en het die veeartse ’n goed georganiseerde kliniek daar ingerig. Lorette Lourens van Mookgophong het haar dag opgeoffer om die veeartse by te staan deur die diere te bad en skeer voor die operasies.

“Ons het nie genoeg woorde om dankie te sê nie. Dankie dat julle jong veeartse jul tyd opgeoffer het en bereid was om Mookgophong se gemeenskap te kom help. Mense wat dit nie kon bekostig nie, se diere is nou gesteriliseer. Ons is so dankbaar teenoor plaaslike sakeondernemings wat ons organisasie ondersteun,” het Oberholtser gesê.

Sy het ook groot waardering uitgespreek teenoor die talle borge wat bygedra het tot die groot sukses. Een borg het heerlike worsbroodjies en botteltjies water voorsien en nog ’n borg het geskenkpakkies gegee wat elke eienaar ontvang het. ’n Kruidenierswinkel in Mookgophong het hondekos geskenk vir eienaars wat hul diere gebring het.

Jolené Storbeck van Mookgophong het oorspronklik met dr. Jacobs onderhandel en die borge gekry. Oberholster, Yvonne Dercksen, Annemi Viviers, Neels Grobler het die administrasie en die invul van vorms behartig en diere van identifikasiebandjies voorsien. Erika Brits het die heerlike eetgoed voorberei.

Related Articles

Back to top button