Brief: R50 miljoen kan polisie bemagtig

Dit is algemeen bekend dat die polisie in Gauteng nie oor genoeg voertuie, wapens, ammunisie en selfs skryfbehoeftes beskik nie.

Kobus Hoffman, Vryheidsfront Plus (VF Plus) -LPW: Gauteng, skryf:

Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, kon eerder die R50 miljoen wat aan die opleiding van 6 000 vredesbeamptes bestee is, gebruik het om die polisie in die provinsie van noodsaaklike hulpbronne te voorsien.

Hoewel die polisie se begroting van die nasionale regering kom, kon die Gautengse regering die R50 miljoen bykomend gebruik het om polisie te bemagtig om hul werk beter uit te voer.

Dit is algemeen bekend dat die polisie in Gauteng nie oor genoeg voertuie, wapens, ammunisie en selfs skryfbehoeftes beskik nie.

In sommige gevalle moet polisielede uit hul eie sak brandstof in voertuie gooi of van hul privaat voertuie gebruik maak om na misdaadtonele te gaan.

By sekere polisiekantore het polisielede nie eens die basiese skryfbehoeftes soos penne en papier nie.

Pleks daarvan om 256 splinternuwe BMW-voertuie aan vredesbeamptes te gee wat ’n skamele drie maande-opleiding agter die rug het, kon die voertuie eerder aan polisiekantore geskenk word waar daar jare lank al ’n dringende behoefte aan voertuie bestaan.

Lesufi het op ’n vraag van die VF Plus in die Gautengse wetgewer te kenne gegee dat die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid die kostes van litigasie en skadevergoeding sal moet dra indien eise ingestel word teen vredesbeamptes wat onregmatig optree teenoor die publiek.

Dit is onbekend of die departement begroot het vir hierdie soort uitgawe.

Die VF Plus verwelkom enige poging om misdaad in Gauteng te bekamp, maar twyfel of Lesufi se vredesbeamptes oor die vermoë beskik om geharde misdadigers van die strate te haal.

Gauteng het ’n sterk en kundige polisiemag nodig, met genoeg hulpbronne, om inwoners te beveilig.

Related Articles

Back to top button