Entertainment

Lente verwelkom met vrolike sang

Glase is verlede Saterdag gelig en hande ritmies saam op die maat van die musiek geklap in die Dienssentrum in Van der Merwestraat.

Die joligheid was deel van die vroeë Lente-oggend wat die Nederduitsch Hervormde Kerk Warmbad-gemeente gehou het as deel van hul diakonale projek ten bate van barmhartigheid.

Chris Coetzer, bekende tenoor, en Jeanette Pretorius was die gaskunstenaars wat die gehoor bekoor het met hul musiek. In ’n volgepakte saal is daar vrolik saam gesing, gewieg en hande gelig op die maat van ligte popmusiek, countrytreffers, FAK-liedere tot gewilde operamusiek.

Coetzer, ’n boorling en ware ambassadeur van Bela-Bela, het die gehoor aan sy voete gehad met sy fluweelstem, vertellings en grappe.

Jeannette Pretorius en Chris Coetzer het die gehoor vermaak.

Coetzer is bekend as een van Suid-Afrika se eie Drie Tenore saam met Phillip Kotze, Jannie Moolman en later Du Preez Stoltz. Sy musiek wissel van Afrikaans en geestelik tot bekende klassieke items.

Coetzer het sy gr. 5 Unisa-musiek en gr. 7-sang in matriek voltooi en ná skool aan die Normaal Kollege Pretoria vir Onderwys studeer Hy bedryf al sedert 1997 die bekende CC Vocal Studios in Pretoria en Bela-Bela.

In 2020 het Ping Recording Studio die lig gesien onder die hand van Coetzer. Hy tree gereeld op in die Atterbury Teater in Pretoria en ook oorsee.

Gaste wat die dag bygewoon het, het dit behoorlik geniet.

Pretorius, al die pad van Pretoria, is deel van die groep Heuning en is ook die werkerby agter die kindertreffer Bee-Bee die By. Sy het nie net gewilde treffers gesing nie, maar ook heerlik gejodel en die gaste saam laat sing op bekende Afrikaanse FAK-liedere. Sy het haar nuutste enkelsnit Trots Afrikaans gedeel.

“Trots Afrikaans gaan oor die positiewe dinge in die lewe en om die beste van ’n situasie te maak. Ek dink mense gaan deur ’n rowwe tyd, veral ná Covid-19 en nou met al die uitdagings van beurtkrag. Ek het gevoel dat mense daaraan herinner moet word dat dit nie is hoe hard jy soms val nie, maar hoe jy weer opstaan en dat mense sterker is as wat hulle dink hulle is.”

Die gaste kon tussendeur smul aan sout- en soethappies voordat daar heerlike pryse — van ’n halwe skaap, gratis haarsnye en selfs wegbreekvakansies by oorde in die omgewing — gewen kon word. Charmaine Lourens, eienaar en redakteur van Die Pos-koerant het die gelukstrekking behartig.

Stella van der Walt bedank almal wat die oggend saam kom geniet het en ook die borge wat gesorg het vir ’n onvergeetlike oggend.

Related Articles

Back to top button