Entertainment

Hartswerk-fees is híér!

Die organiseerders skarrel om die finale reëlings te tref vir die splinternuwe Hartswerk-fees, wat die naweek van 1 tot 3 September by Die Boer en die Belg-restaurant buite Mookgophong afskop.

“Hierdie is ’n heerlike familievriendelike fees vir liefhebbers van kuns, kos en musiek. Die geld wat ons insamel, sal aangewend word om die lewensgehalte van bejaardes te verbeter,” het Luzaan Horn, een van die organiseerders van die fees, gesê. “Die Waterberg se Hartswerk-fees is gebore uit ’n spesiale voorliefde vir goeie musiek en kreatiewe handwerk, asook die plaaslike gemeenskap se ongelooflike ondersteuning van soortgelyke geleenthede wat voorheen aangebied is.”

Volgens Horn is plaaslike welwillendheid baie belangrik vir die organiseerders en daarom ondersteun die fees vanjaar die Lewensvreug Dienssentrum wat noue bande het met die Naboomspruit Tehuis vir Bejaardes.

Verskeie bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars soos o.a. Valiant Swart, Ruhan du Toit en Will Jordan sal op die verhoog gesien en gehoor word.

“Wat die fees werklik uniek maak, is die fokus op hartswerk-stalletjies en werkwinkels,” het sy gesê.

Saterdagoggend 2 September se werkwinkels sluit in hoe om bier te brou en vleis te berook, ’n 5 km pretlooproete deur die pragtige natuurskoon van die Waterberg, asook ’n potjiekoskompetisie met ’n kinkel deur een van Suid-Afrika se gunsteling braaisjefs.

Verskeie kaartjie-opsies is beskikbaar van familiepakkette tot dagkaartjies by: https://bit.ly/whf2023kaartjies. Gaan loer ook by www.hartswerk.co.za of www.facebook.com/hartswerkfees of www.instagram.com/hartswerkfees(.)

Related Articles

Back to top button