Joligheid en vrolikheid by Die Oog

Daar is nooit ’n vervelige oomblik by Die Oog-aftreelandgoed buite Mookgophong nie.

Die inwoners is kreatief en beplan telkens interessante aktiwiteite.

Nog so ’n lekker kuierdag was op Vrydag 28 Julie toe daar ’n jolige “Hop-On-Hop-Off” -oggend gehou is. Die doel was dat die inwoners by die landgoed mekaar beter leer ken. Meer as 200 inwoners was betrokke by die projek.

Gholfkarretjies het reeds vroegoggend begin om tussen verskeie besoekpunte te beweeg. Die beginpunt was om 08:30 by die teetuin waar almal verwelkom is en die landgoed se koor opgetree het. Die gholfkarretjies is met ’n geel tossel gemerk en het inwoners soos ’n wafferse “uber” na die 13 besoekpunte vervoer. Wanneer die klokkie gelui het, was dit ’n teken dat daar ’n “uber” beskikbaar was.

Die eerste stilhouplek was by die oord se B-huise in die park waar hulle verwelkom is met gemmerbier en pannekoek. Daar was ook heerlike tuisgebakte brood en konfyt om te proe en selfs om te koop.

By die volgende stilhouplek, De Hoek-winkel, het gaste hulself bederf met koek en tee of lekker worsbroodjie geëet. Hulle kon ook ’n sakkie groente gratis kry.

By die F-fase huise is roosterkoeke op die vuur gemaak en kunswerke is te koop aangebied. Die inwoners van die F- en H-fase huise het gaste bederf met roomys by die Wynassie-dam en die Besige Byekorf se besoekpunt het al hul mooi handwerk uitgestal en lekker kerrie-en-rys verkoop.

Die Boshuis-inwoners het gaste behoorlik getrakteer met borde vol eetgoed en ’n uitstalling van keurhandwerk. By die reservaat se hek was daar ’n stilhouplek wat deur Gerrie Schoeman, ’n inwoner wat vrywillig in die reservaat werk, beman is en daarna is daar by een van die huise oorkant die reservaat gekuier.

“Dit was ’n heerlike gesellige fees met hope pret,” het Wendy Engelbrecht, een van die inwoners, gesê. By die Engelbrechts en hulle bure by die J-huise was dit baie bedrywig en die “toeriste” is met heerlike sop en sjerrie ontvang. Hulle het ook ’n uitstalling van borduur- en kwiltwerk gehou. By die Njala-lapa en jukskeibane kon nuwelinge vir die eerste keer ’n skei gooi en kon hulle pragtige Persiese matte bekyk.”

Die laaste stilhouplek van die oggend was by die L-huise se “Wyntyn”. By hierdie punt het gaste sjokolade en sjampanje geniet.

Exit mobile version