KidsLifestyleParenting News

Kommerwekkende styging in depressie by kinders

Depressie word al lankal as “die siekte van ons tyd” beskou en juis daarom vind daar in Julie wêreldwye bewusmakingveldtogte daaroor plaas.

Abdurahman Kenny, geestesgesondheidbestuurder van Pharma Dynamics, vertel in ’n verklaring aan Die Pos indien depressie nie aangespreek word nie, kan dit lei tot ernstige siektetoestande, gestremdheid en in ergste gevalle, selfdood.

“Tieners se geestesgesondheid het reeds voor die Covid-19-pandemie afgeneem, maar sedert die pandemie het die gevoel van hopeloosheid en hartseer weens verlies toegeneem,” vertel hy.
“Hulle roetine is omver gewerp, hulle het mylpale misgeloop, skoolaktiwiteite is lank vertraag, hulle kon nie met ander interaksie hê nie en die vrees vir hul gesondheid en hul huishoudings het sonder twyfel daartoe bygedra. Kinderopvoeding hang baie af van roetine en voorspelbare gebeure.”

Sy navorsing toon dat ouer kinders, veral meisies, maklik negatief raak wanneer hulle nie interaksie met ander tieners het nie. Dit gebeur veral wanneer hulle puberteit bereik en verandering in hul hormone ervaar.

“Die depressiesimptome wat gevaartekens insluit is kinders wat gereeld hartseer raak, ’n gebrek aan belangstelling in aktiwiteite wat hulle voorheen beoefen het, slaaploosheid, geen eetlus, daling in konsentrasievermoë, prikkelbaarheid en irritasie, lae energievlakke, min motivering, dwelmmisbruik en ’n gevoel van moedeloosheid.”

Die navorsing is in stedelike gebied gedoen, maar ook hier in die Waterberg is inwoners nie gevrywaar nie.

Zelda Wessels, Therapy Shack-terapeut wat veral laerskoolleerders bystaan, vertel dat huishoudings se omstandighede ’n baie belangrike rol speel in kinders se gemoed.

“Baie volwassenes het finansiële uitdagings beleef en sukkel steeds om die agterstand in te haal. Dit het bygedra daartoe dat die dinamika in gesinne heeltemal verander het omdat ouers ook moedeloos geword het,” vertel sy.

“Talentvolle kinders moes hul sport of musiek prysgee omdat die huishouding se begroting dit nie meer kon bybring nie. Die land se omstandighede het ook bygedra daartoe dat huishoudings noustrop trek. Broodwinners het heeltemal moed verloor en daardie moedeloosheid is aan die kinders oorgedra.”

Sy vertel dat sekere kinders die emosionele las van hul ouers wou oorneem, maar kinders is nog nie toegerus om daardie verantwoordelikheid en las te hanteer nie.

“Solidariteit het hieroor ’n studie gedoen van gr.4-leerders wat sukkel om te lees weens hierdie emosionele las. Toppresteerders se akademie het agteruitgegaan. Ander leerders is moedeloos en lusteloos, en min het ’n toekomsvisie, want dit waaroor hulle voorheen opgewonde was, is nie meer daar nie. Dit is onderliggende simptome van depressie.”

Sy sê dit is jammer dat al hoe meer kinders hul spontaneïteit verloor en hulle op sosiale vlak isoleer.

“Die Covid-19-regulasies het ongelukkig hiertoe bygedra.”

Kenny sê voorts dat daar in Suid-Afrika beperkte dienste aangebied word om depressie teen te werk, daarom moet ouers vir die gevaartekens uitkyk om betyds die nodige stappe te neem.

  • Wees daar vir jou kind. Wys dat jy omgee, selfs al wil hulle nie oor hul gevoelens praat nie. Erken hulle gevoelens, maar moenie ongesonde gedrag goedkeur nie. Luister en probeer om altyd ’n oplossing vir hul probleme te soek.
  • Fokus op die positiewe. Gee hulle komplimente vir die klein dingetjies wat hulle doen. Dit bevorder die verhouding tussen kind en ouer. Hulle selfbeeld sal ook verbeter.
  • Moedig hulle aan om na hulself om te sien. Oefening, gesonde eetgewoontes, genoeg slaap, deelname aan sport, stokperdjies, beperkte tyd op selfone, skryf in joernaalboeke en gesonde sosialisering is alles haalbare doelstellings.
  • Stel perke. Leer hulle wat aanvaarbaar is en wat nie. Selfs al voel hulle depressief, is daar steeds huisreëls.
  • Gee hulp waar nodig en kry professionele hulp as die kind se gemoed nie verbeter nie. Gun hulle ook die tyd om op hul eie deur hul gevoelens te werk. Gee hulle ’n keuse wie om te raadpleeg vir hulp sodat hulle deel voel van die oplossing.

“’n Deeglike assesering van ’n sielkundige sal help om die pad vorentoe te bepaal. Daar is baie suksesverhale, ” het Kenny gesê.

Vir meer inligting oor hoe om depressie te hanteer, besoek die webtuiste www.mydynamics.co.za of skakel Pharma Dynamics se hulplyn by tel. 0800 205 026.

Related Articles

Back to top button