Pets

Langverlore Fritz is weer tuis

Vir Ciska Jooste van Mookgophong was dit soos ’n nare nagmerrie toe haar Duitse korthaarpointerhond, Fritz, op Dinsdag 11 April spoorloos verdwyn het.

Haar geliefde hond het uit haar ma se erf in 7de Straat in die dorp verdwyn.

“Fritz het nog nooit by die erf uitgegaan nie, al was die hekke oop. Dit was ’n raaisel hoe hy net so kon wegraak,” het sy aan Die Pos gesê.

Hulle het op verskeie sosiale mediaplatforms gevra dat inwoners op die uitkyk moet wees vir hom, maar sonder enige sukses. Selfs die Naboom-dierebeskermingsgroep het op verskeie forums gevra en gesoek, maar daar was geen tyding oor Fritz nie.

Uit radeloosheid het Jooste op Donderdag 20 April besluit om ’n beloning aan te bied vir enige inligting oor Fritz. Sy het oral in die dorp pamflette uitgegee.

“Dieselfde dag het ’n man my gebel en gesê dat hy weet waar my hond in die township is en dat hy bereid is om my te gaan wys. Ek wou nie vrou-alleen soontoe gaan nie en ’n vriend het saam met die man gegaan,” het sy vertel.

Daar aangekom, was daar meer honde as net Fritz. Hy was baie maer en met ’n draad vasgemaak. Hy het dadelik op sy naam gereageer. Die informant was glo baie bang en wou nie te naby aan die huis gaan nie. Hy het gesê hy vrees vir sy lewe indien die “diewe” hom sou sien.

Terwyl Jooste en haar vriend by die polisiestasie in die dorp was, het drie ander mans daar opgedaag en beweer dat hulle die verlore hond het. Hulle was volgens haar baie beslis dat hulle die beloning moet kry.

“Die polisie het saam met die mans gegaan en Fritz gaan haal. Hy was gelukkig ongedeerd,” het Jooste verlig gesê. “Fritz is een van die gelukkiges wat gevind is. Die gemeenskap van Mookgophong moet die erns van die saak besef. Daar is tans ’n groot sindikaat wat betrokke is by hondegevegte (veral pitbull-honde), onwettige jag en honde wat gesteel word om as lokaas gebruik te word vir hondegevegte,” het ’n kenner op die gebied, wat anoniem wil bly, gesê.

Geen saak is gemaak nie, maar die polisie het volgens Jooste beloof om op die uitkyk te bly vir soortgelyke gevalle.

Related Articles

Back to top button