Finance Advice

Finansies: Almal wil ’n huisie by die see hê …

Ons almal word ouer en of jy nog baie jare oor het en of jy op die drumpel van aftree is — ’n aftreeplekkie sal beslis jou sak raak.

Vandag fokus ons op die opsies oor aftrede.

Die vink bou ’n nes en wys dit vir sy vroutjie. Sy sal keer op keer die nessie verrinneweer totdat sy tevrede is. Homo sapiens, oftewel die mensekind, het nie tyd of geduld hiervoor nie, veral nie as jy by aftrede kom nie. Dit is hier waar samewerking tussen die twee aftree-duifies baie belangrik is.

Mans en vroue het dikwels verskillende behoeftes. Die man sal waarskynlik ’n ideale vertrek koester om sy verwaarloosde of langverwagte stokperdjie uit te leef en die vrou sal waarskynlik vir oulaas haar stempel diep wil afdruk op die binnenshuisversiering en dies meer. Kanse op konflik is feitlik onafwendbaar — mits dinge vooraf reeds stuk-stuk en rustig benader is.

Dink gerus vooraf aan lewens- of gebruiksreg of eie titel op die eiendom. Die variasies is baie. Wanneer jy op ’n lewensreg besluit kan julle tot die dood van die langslewende daar bly en dan val ’n waarde by dood van die langslewende aan die boedel toe wat meesal sowat 65% van die koopprys is. Jy kan ook nie die gebruiksreg aan jou kinders bemaak nie. Daarenteen is eietiteleiendomsreg ’n bate in jou boedel en erfbaar en jou kinders kan dit verhuur indien hulle nie self daar kan of wil woon nie. Jy verloor dus (op die oog af) kapitaal met lewensreg. Aan die anderkant is lewensreg gewoonlik heelwat goedkoper wat maandelikse kostes betref en sluit dit soms voordele van sekere etes in. Eiendomsreg vra dat jy self die plek moet onderhou (gebou en tuin, sekuriteit, versekering ensovoorts).

Elkeen moet hul eie behoeftes en voorkeure vasstel. Maak ’n lys van plekkies by die see of bos of dorp of stad of platteland. Neem ook jul gesondheidstoestand, belangstellings, sport, vriende en familie se teenwoordigheid, kinders, kerk en reisplanne in gedagte.

Die twee faktore wat beslis die belangrikste rol in besluit speel, is geldsake en die voorsiening van gesondheidsorg — veral in die senior jare. Goeie navorsing is nodig, want jy gaan op een of ander manier vir die volgende betaal veral indien dit nie by ’n heffing ingesluit is nie: ’n sorgeenheid vir siekes, alzheimer-eenheid, tuisversorging, veiligheid, onderhoud van eiendom, tuin, skoonmaakdienste, vervoer, sportgeriewe, etes of kruideniersware, kragvoorsiening en water, bykomende garage of stoorkamer, Wi-fi, solarstelsels, besoekersparkering en klubgelde vir alle belangstellings en stokperdjie-beoefening. Die lys gaan nog aan, maar hierdie behoort ’n idee te gee van wat om in ag te neem.

Daar is natuurlik luukse opsies ook. Die meer ekonomiese soort behuising se maandelikse uitgawes wat lewensregopsies betref wissel tussen R5 000 en R12 000, terwyl die eietitel-opsies tot R28 000 per maand kan kos.

Besluit allereers waar jy wil woon en dan wat jy kan bekostig en sif dan versigtig deur al die opsies totdat jy jou laaste tuiste vind.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button