Local Lifestyle

Boek gee kykie in Waterberg se geskiedenis

Die Waterberg is dekades lank al die tuiste van kleurvolle en interessante karakters.

Richard Wadley, die skrywer van die omvattende boek “Waterberg Echoes” wat in 2019 uitgereik is, stel vandeesweek sy nuutste skrywe “Waterberg Ways” bekend, vol vertellings uit die jare toet.

“Ek het vir meer as tien jaar navorsing oor die eerste boek gedoen. Daar het egter soveel goeie vertellinge en brokkies geskiedenis van inwoners af oorgebly, dat ons besluit het dit regverdig nog ’n boek,” het hy gesê.

Wadley en sy vrou Lyn noem die Waterberg, tussen Vaalwater en Melkrivier, reeds 21 jaar lank huis.

Die bekende geoloog en skrywer Richard Wadley se tweede boek, Waterberg Ways word hierdie week bekendgestel.

“Ek het nuuskierig geraak oor grafte wat op ons plaas was asook die ou spoorlyn wat in die omgewing loop. Ek wou ook weet waar kom die naam New Belgium vir plase in die omgewing vandaan? Ek het begin navorsing doen en op die interessante feite en staaltjies afgekom,” het hy vertel.

Wadley is ’n afgetrede geoloog en Lyn ’n argeoloog, wat hul belangstelling in die omgewing ’n ander dimensie gee. Lyn het verlede jaar die boek “Wildflowers of the Waterberg” uitgegee.

“Waterberg Ways” gee lesers ’n kykie in die lewens van diamantprospekteerders langs die Mogalakwenarivier, twee Tasmane wat die gesogte Victoria Cross-medalje ontvang nadat hulle ’n hinderlaag in 1900 oorleef het, ’n groot dinamiet-ontploffing in die Nek, die uitdagings om ’n Model T-Ford te bestuur en die groot vreugde wat die eerste radio-uitsendings gebring het.

Van die staaltjies vertel van ’n boer wat die gevolge van ’n onwettig geskuifde grensdraad moes verduur en ’n polisieman wat stembusse in afgeleë plekke moes aflewer. Die inwoners vertel van hul vreugdes tydens beesveilings, die boor vir water en uitdagings met luiperds, wilde honde en sprinkane.

Die verhale is bymekaar gemaak uit Waterbergers se persoonlike herinneringe en ongepubliseerde skrywes en onderhoude.

Die boek word by twee geleenthede bekendgestel wat beloof om heerlike byeenkomste te wees. Op Vrydag 10 Maart om 14:00 is daar ’n byeenkoms by die Black Mamba-restaurant in Vaalwater. Die bekendstelling by Negester tussen Bela-Bela en Modimolle vind plaas op Woensdag 15 Maart om 10:00.

Vir meer inligting, skakel tel. 083 609 1425.

Related Articles

Back to top button