Op die Springbokvlakte, waar ek groot geword het, is nie net mielies en koring geplant nie. Elke boerdery het beeste, varke, hoenders en skape gehad. As dit slagtyd was, het man en muis ingespring om te help. My pa het die sosatiestokkies uit kruisbessiebos van die bergplaas gesny en my ma het die sous gekook — haar eie resep — en dan is die vark, skaap en beesvleis in perfekte blokkies gesny.
Tussen die vleisblokkies is daar repies varkspek geryg wat die kole laat opvlam het wanneer ons dit op die rooster gebraai het. My ouers het graag gegee en meeste van die tyd is talle mense van die kontrei genooi vir die heerlike sosaties en boerewors wat gebraai word.
Dit was lank voor die tyd van winkelbrood en die nou tradisionele braaibroodjies. Kaas was ’n luukse. Ons het growwe geelpap, wat gemaak is van mielies wat Pa self geplant, geoes en gemaal het, gemaak. Daarby het ons ’n geurige dik tamatiesous bedien met vars plaasbotter op die pap. Dit was ’n ete vir koninklikes.
My ma het dikkoek met rosyne of koeksisters gebak vir nagereg. Die stroop het sommer langs jou mondhoek afgedrup van lekkerte. Dit was telkens ’n fees. Ek sal dit vir ewig onthou.
Ek het nog ’n skatkis vol mooi onthou en haal dit soms uit, bekyk dit weer, lag partykeer daaroor en pink soms ook ’n traan. Sy sal altyd my “sosatie, rosynekoek, ‘gespringde’ varkvelle in die koolstoof se oond, oophande ma” bly en daarom deel ek haar sosatiesous- resep met ons lesers.
Daar is nog genoeg tyd om die sous te maak sodat die sosaties eers die Saterdag op die kole gegooi kan word.