Local Lifestyle

Lek jou lippe af vir dié gerookte kortrib

Die reuk van die bure se braaivleis hang naweke só tergend in die lug dat ’n mens skoon spyt is as jy nie self ook ’n vuurtjie aangesteek het nie.

Dirk Nortman.

Die Pos het by Dirk Nortman van Modimolle aangeklop om te hoor wat sy gunsteling-ete is om oor die kole gaar te maak. Hy laat gereeld sy Facebook-vriende se monde water met sy foto’s en beskrywings.

“Ek is baie lief vir my roker en verkies dit bo braai. Ek maak die vleis sonder ’n resep gaar en kyk so nou en dan op televisie en die internet vir nuwe idees. Daar is gereeld varklies in my roker, maar beeskortrib is die heel lekkerste,” vertel hy.

“Ek vat gewoonlik so vier ribbes in die snit. Die hele proses neem so sewe ure vandat ek begin met die speserye op die vleis totdat ek familie en vriende kan nooi om te kom aansit vir ’n smullekker ete. Daar is egter ’n paar truuks wat ’n mens moet aanleer.

“As ek weet ek kry Saterdag mense en hulle is nie vol fiemies nie, maak ek kortrib in die roker. Ek sorg dat dit so teen 17:00 se kant reg is en dan bedien ons dit saam met pap-en sous en ’n vars slaai.”

Dirk Nortman wys hoe die sappige beeskortrib lyk wat hy in sy roker gaarmaak. Dit word eers met speserye gesmeer en daarna vyf ure lank in die roker geplaas. Dan word dit in foelie toegedraai en nog ’n uur lank in die roker geplaas.

Nortman verduidelik nadat hy die vleis met ’n spesery-mengsel gesmeer het, word dit in die roker gepak. Dit word al om die uur met ’n mengsel van Appletizer en wyn of bier benat om te keer dat dit uitdroog. Ná so vyf ure maak hy dit toe in foelie en plaas dit vir nog ’n uur in die roker. Daarna word dit so in die foelie in ’n handdoek toegedraai en in ’n koelboks geplaas vir nog ’n uur.

“Jy kan die koelboks so nou en dan oopmaak dat van die hitte ontsnap.”

Nortman sê benewens sy roker, is die lugbraaier wat hy in Desember gekoop het, sy gunsteling toerusting om vleis mee gaar te maak.

“Daar is niks wat die varklies so lekker krakerig maak nie.”

• Is jy net so lief vir braai? Stuur vir ons jou gunstelingresep.
• Die Pos deel elke Vrydag inwoners se braaiplanne.

Related Articles

Back to top button