Sport

Hansies slaggereed vir interhoër

Uitgesoekte atlete van Hoërskool Hans Strijdom het aan die Tuks Toptien in Pretoria deelgeneem.

Die atlete, sangers, onderwysers en ouers van Hoërskool Hans Strijdom is slaggereed vir die Bosveld Interhoër. Met die gemeenskap van Mookgophong wat hul getrou ondersteun, gaan die Hansies vanjaar die grense verskuif.

Volgens Lebu van Heerden, adjunkhoof van sport, is die dirigente vol entoesiasme nadat hul ’n oefenkamp bygewoon het. Die sangers en dirigente het deeglik voorberei vir die kompetisie en is van plan om stof in die ander skole se oë te skop. Hy het aan Die Pos gesê hy is baie opgewonde oor die atlete. Die baan-en veldatlete het hul reeds hierdie seisoen bewys en puik prestasies is al behaal. Hy sien met groot verwagting uit na die atlete se prestasies.

Cara Louw, wat tans die verste afstand vir meisies o.17 in spiesgooi in Suid Afrika het, en Janneman Benson, wat onder die toptiendiskusgooiers vir seuns o.16 is, is atlete om dop te hou. Marcus van der Walt is ’n baanatleet wat tydens dié seisoen se vriendskaplike byeenkomste besonder goed gevaar het in die 400 m en 800 m seuns vir o.17.

“Jayden Enslin, Zander Law en Elrike van der Merwe is drie van ons hekkiesatlete wat ook puik prestasies behaal het en hul staal sal wys. Elandi van Staden in die middelafstande en Pieter Koedoe Harmse in die velditems is atlete wat kan verras,” het Van Heerden gesê.

“Ons sien met selfvertroue uit na die byeenkoms, veral nadat ons verlede jaar verras is met ’n tweede plek. Ons is aanstaande jaar die gasheer vir die 60ste Bosveld Interhoër en sien uit daarna om die ander skole in 2024 hier in Hansieland te ontvang,” het Rinus de Jager, skoolhoof, gesê.

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button