Volkswagen-entoesiaste kom eersdaags in Bela-Bela spog

Aanhangers van die Volkswagen-voertuighandelsmerk moet solank hul dagboeke nader trek vir die jaarlikse SA Camp Fest — oftewel VDub-byeenkoms — wat vanaf Vrydag 3 Februarie by Forever Resorts in Bela-Bela aangebied word.

Die saamtrek lok jaarliks honderde Volkswagen-eienaars wat in die dorp kom spog met van veteraanmodelle tot die nuutste blink modelle wattans in die mark beskikbaar is.

Van die modelle is oorspronklik soos die dag toe dit uit die fabriek gekom het en in ander gevalle het die eienaars die voertuie onherkenbaar omgebou en die enjins witwarm gemaak. Daar is dus ’n Volkswagen vir elke besoeker se smaak te sien.

Die saamtrek word gesien as een van die grootste byeenkomste van Volkswagen-voertuie in die suidelike halfrond.

Die byeenkoms word gekenmerk deur die talle opwindende kompetisies en aktiwiteite wat vir die deelnemers aangebied word. Die feesvieringe strek oor vier dae.

Volgens die organiseerders en plaaslike sakelui is dié jaarlikse saamtrek altyd ’n welkome finansiële inspuiting vir die dorp.

Paula Arthurs, Forever Resorts se bemarkingsbestuurder, het gesê die eerste besoekers word reeds vanaf Donderdagmiddag 2 Februarie by die oord verwag. Die byeenkoms duur tot Sondag 5 Februarie.

Dagbesoekers wat die byeenkoms wil bywoon, sal slegs tussen 07:00 en 17:00 tot die oord toegelaat word. Kaartjies kos R220 per persoon.

Toegangskaartjies kan ook vooraf op die Quicket-webtuiste verkry word.

Dagbesoekers wat die skou bywoon, sal toegang hê tot die oord se swembaddens en waterglybane,” het sy gesê.

Die roetes wat tydens die saamtrek geraak word, sluit die R516-pad na Settlers in en waarskynlik die R101-pad vanaf Radium na Bela-Bela.

Die organiseerders beplan om die groot aantal voertuie deur die dorp se gewone toegangsroete na die oord te lei. Die organiseerders waarsku dat inwoners geduldig moet wees.

Die voertuie sal in Minnaarstraat afdraai en tot by Lunaweg ry en dan links draai tot by Robertsonstraat, waar die voertuie weer links sal draai tot by Chris Haniweg en die hoofingang na Forever Resorts. Daar sal beamptes aan diens by die kruisings wees om die verkeer te reguleer. Volgens Arthurs is samesprekings met die verkeersafdeling, munisipaliteit en polisie gehou om te sorg dat noodplanne ook in werking is.

Exit mobile version