Fietsry en stap is haar passie

Die sportentoesias, Vicky van Eeden (55) van Mookgophong, is ’n kranige stapper en fietsryer wat al byna elke staproete in Suid-Afrika aangepak het.

Sy het die afgelope vakansie besluit om sommer die grens na Mosambiek per fiets oor te steek.

“Ek het ’n groep stappers gelei en nadat ons die staproete by Kosibaai voltooi het, het ek en Kirsti Geldenhuys fietse geleen en sommer die 44 km na Ponta do Ouro en terug in een dag afgelê. Ons het vroeg weggespring en heerlik geswem. Kort voordat die grenspos gesluit het, was ons weer terug in die land. Ek was nog nooit in Mosambiek nie en ek het gedink dit sal ekstra spesiaal wees om met dié land per fiets kennis te maak,” het sy gesê.

Die langafstandroetes is haar gunstelingritte. Die langste rit wat sy nog afgelê het, was die 175 km op een dag tydens die Kremetart-fietsryroete naby Makhado (Louis Trichardt).

Vicky van Eeden van Mookgophong het met ’n geleende fiets oor die grens na Mosambiek gery en dieselfde dag teruggekom. Op die ander foto is sy op ’n 50 km staptog in die Wolkberg by Machado wat sy in vier dae afgelê het.

“Ek het al 10 keer aan die Argus-rit gdeelgeneem en ses keer die Amashoba-roete tussen Pietermaritzburg en Durban afgelê.”

Van Eeden se stapklublede wissel van 40 tot 75 jaar oud. Die groepe bestaan soms uit tot 50 stappers en sommige van die roetes vereis dat stappers al hul slaap-en eetgoed saamdra. Sy het al twee groepe stappers na die Kosibaai-roete gelei en 120 km in nege dae gestap.

“Jy moet fiks wees, Ek beveel beslis ook aan dat deelnemers goeie stapskoene moet kry voordat hulle ’n staproete aandurf. Gewone tekkies sal nie die tog oorleef nie en ook nie jou voete genoegsaam ondersteun nie,” is haar raad aan voornemende stappers.

Sy wil nog graag die Visrivier Canyon en die tien daelange Tankwa Camino-roete gaan stap. Sy oefen daagliks om fiks te bly en sy beplan om in April die Skeepswrak-roete naby Port Alfred aan te durf.

Hierdie roete is ses dae se stap en een dag met ’n kano.

Die volgende op haar lysie is om rotsklim te bemeester.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version