Travel

Sorgvry tem ons die Wildekus

’n Sorglose vakansie waar jy as kind na hartelus kon baljaar, swem in die see, visvang of net luilekker rondlê was alles deel van my mooiste Kerstyd-herinneringe.

Die opgewondenheid het weke voor die skool in Desember sluit al begin. Ons vyf meisies moes Ma help koekies bak. Die meuletjie is vasgedraai aan die kombuistafel en dan is daar vlytig deeg geknie en koffie- en vlakoekies gebak. Soms is daar met verskillende vormpies koekies uitgedruk vir die bakpanne wat gereed staan om oond toe te gaan.

Die seuns het Pa Piet in die motorhuis gehelp om gewiggies vir die vistokke te smelt, die stokke is nagegaan en daar is gesels oor die groot kabeljoue wat hulle wil uittrek.

Wanneer die groot dag nader, was Rooies, ons gesin se kombi, boepensvol gelaai vir die lang pad Port St. Johns toe in die destydse Transkei.

Dié droomvakansies het ek vanaf gr. 2 tot in my studentejare geniet. Port St. Johns aan die Wildekus (destyds deel van Transkei) is ’n natuurparadys waar jy gou vergeet van Vader Tyd.

Ons het gewoonlik voor die son opkom weggetrek en teen ligdag het Ma in so ’n heserige stem vir ons kinders How much is that doggie in the window? gesing. Daarna het Pa die kassette begin insit met goue oues, country-treffers en popklanke waarop ons almal saamgesing het. Hy het die petrolpedaal diep getrap, want die pad was lank en ver. So in die ry het Pa nou en dan die gekerfde biltong of pak Pick a mix-sjokolade onder sy sitplek uitgehaal en omgestuur. Die lang sit het ook gemaak dat Pa soms met ’n kwaai kyk in die truspieëltjie ons moes waarsku dat hy gaan stop en ons “deurdraf”.

Ben Dekker.

In Van Reenenspas het ons eers by een van die kleinste kerkies in die wêreld stilgehou. Dit het net agt sitplekke en is ook die enigste Rooms Katolieke Kerk in privaat besit. Die kerkie is in 1960 as ’n nasionale monument verklaar.

Vandaar is ons na die Howick-watervalle om Ma se padkos te verorber. Hoender of skaapboud, koue aartappeltjies, gekookte eiers en driehoektoebroodjies. Wanneer die groen heuwels van die Transkei om ons kom lê, het Pa afgetrek vir foto’s. Ons moes dan tuur en met ons vingers in die verte wys. Vandag is daardie skyfies deel van my kosbare herinneringe.

Kersvakansies in Port St. Johns het ook beteken dat ons elke jaar dieselfde gesinne by Second Beach se kamp, waar ons tuisgegaan het, gesien het. Die weersiens was lekker en ons het saamgekloek, tot laat geswem, speletjies gespeel, gedans en om ’n braaivleisvuur gekuier.

Die plaaslike inwoners het ons met die jare goed leer ken, so ook die klomp nonne wat so ’n ent van ons vakansieverblyf gewoon het. Ons gesin se huishulp was die Very First Mrs Mathanzima soos sy haarself aan ons bekendgestel het. Sy het elke oggend vroeg kom opruim en dan vertel van haar besoek aan die Wit Huis in Amerika saam met die destydse hoofminister van die Transkei, Kaiser Dalingwonga Mathanzima.

Die lekkerste was dat elkeen die vakansie kon geniet soos hy of sy goeddink. Daardie vryheid is iets wat my altyd sal bybly. Ons kinders het ons verkyk aan die akteur, skrywer en natuurliefhebber, Ben Dekker, wat bekend was vir sy rol as Gaitsigubib in die TV-reeks Die Vlaktes Duskant Hebron. Hy het gewoonlik met sy sonbruin gespierde lyf penregop langs die strand afgestap om in die golwe te baljaar. Toe ons ouer word, het ons weggeglip en by sy huis gaan groen tee drink.

Pa en die seuns het soms ver gestap in Poenskop se rigting om die lyne nat te maak. Hulle het altyd teruggekom met ’n net vol vis.

Nog ’n lekkerte was die staptog wat my oom gewoonlik kort voor Kersdag na Umgazi, sowat 15 km vanaf Port St. Johns, gereël het. Ons jongklomp het vroegoggend kuslangs saam met hom gestap en pootuit by die Umgazi-hotel se buite kroeg aangesit vir ’n passion fruit & lemonade. Met die grondpad oor die berg terug, het Pa Piet gewoonlik halfpad terug opgedaag met Rooies om ons te kom haal.

Tuis was daar altyd varsgebakte Chelsea buns van die dorp se bakkery en yskoue koeldrank.

Die dag voor Kersfees het Pa en die seuns ’n jong boom of groot tak in die bosse gaan uithaal. Tuis het ons dit maak staan en dit is kwistig versier met alles wat mooi en anders is wat jy op die strand kon optel. Seewiere en verskillende skulpe in alle grootes was deel van die tooisels.

Daar was altyd ’n skottel vol varsgebakte vis met ’n degie om waaraan jy jouself knuppeldik kon eet en voor die groot braai het pa ons kinders en sommer ook van ons vriende in die kombi geboender. Ons het kuslangs gery, oor die Umzumvubu-rivier se bruin waters, by Tarzan (Mike Costello) se winkel stilgehou waar Pa vir ons elkeen ’n pakkie Life Saver- lekkers gekoop het.

Vier weke het te vinnig verby gevlieg en wanneer die oppak vir die tog terug huis toe aanbreek, is daar met swaar harte afskeid geneem van ons gesin se paradys. Ons kon nie wag om weer terug te kom nie.

Related Articles

Back to top button