Entertainment

Karatekas en musikante vat hande

Feesgangers het saam gesing, voete gestamp en hande gelig tydens die Waterberg Karate-musiekfees wat verlede Saterdag (26 November) op Laerskool Warmbad se sportveld gehou is.

Die fees is vir ’n goeie doel gehou, want 19 van die Waterberg Karate Academy se karatekas wil aanstaande jaar in Duitsland gaan deelneem. Die Japan Shotokan Karate Assosiasie (JSKA) se wêreldkampioenskap vind in Mei 2023 plaas en die karatekas wil daar hul vernuf gaan wys.

Bekende kunstenaars Adam Tas, Beeskraal, Voetstamp, Duane Louw, asook Gert en Lourens Delport, het die feesgangers met op-en-wakker musiek vermaak. Die karatekas het ook die geleentheid gekry om hul vaardighede op die verhoog te wys.

Verskeie faktore het egter daartoe bygedra dat die musiekfees nie ondersteun is soos wat die organiseerders wou hê nie. Die vertoning is onder meer kortgeknip weens ’n hewige donderstorm wat uitgesak het. Eskom-beurtkrag het ook die geleentheid effe gepooitjie.

Die karatekas wys hul vaardighede. Hulle mik om in 2023 in Duitsland aan die wêreldkampioenskappe te gaan deelneem.
Sanger Duane Louw en sy seun, Hendri, oorspronklik van Rustenburg, wys met hulle vertoning Afrikaans en gospelmusiek lê hulle na aan die hart.
Bekende sanger Adam Tas het die stormweer getrotseer en ’n goeie vertoning gelewer, maar moes sy optrede kortknip nadat ’n donderstorm uitgebreek het.
’n Pretrit saam met die Ingilozi-span tydens die musiekfees was van die lekkertes wat die kinders geniet het.

Sensei Nico von Stade van die klub sê die karatekas is egter nog vuur en vlam om geld in te samel om hul slag oorsee te gaan wys.

“Dit help nie om te kla nie. Ons het ’n groot projek aangepak en alle betrokkenes het hul bes gegee om dit ’n sukses te maak. Ons sal nie opgee nie en steeds ons beste doen om ons karatekas in Duitsland te kry. Gebed en die vyf reëls van karate — karakter, opregtheid, moeite, etiket en selfbeheersing — hou ons gemotiveerd.”

Related Articles

Back to top button