Hoe bonter, hoe beter!

Die turkoois hekkie op die stoep staan wawyd oop en Blikkies die swart “optelhond” spring stertswaaiend teen ’n mens op as jy die stoep met sy vrolike, bont vloer betree.

Die lieflike bont skepping teen die pragtige “la Boca” mure buite die huis, is vrolik en maak `n mens nuuskierig om die res van die huis te sien.

Die “la Boca”-mure laat ’n mens dadelik aan die klein straatjies van Riachuelo in Argentinië dink. ’n Vrouestem uit die huis roep jou nader en jy stap ’n wonderwêreld van kleur en pret binne.

Elrine van Staden van Mookgophong se persoonlikheid is net so kleurvol soos haar huis. Sy verwelkom Die Pos gul met ’n kristalglas varsuitgedrukte lemoensap. “Dit is van ons eie bome hier agter in die boord,” sê sy trots.

Die ingangsportaal se mure is helderoranje en turkoois geverf. Daar is nostalgiese portrette en kleurvolle skilderye — elk met sy eie storie — in oorvloed teen die mure. ’n Mens se oë kuier van die een na die ander en elkeen vang jou vas. Bont is beslis nie boring nie, skiet dit deur my kop.

Die pragtige model, Allanah Cawood, sorg vir die fokus in dié Victoriaanse vertrek.
Elke huis moet sy eie familiemuur hê en die talle foto`s van haar voorgeslagte en nageslag staan uit teen die sonneblomgeel muur.
`n Pragtige geskilderde stoel deur kunstenaar Corietha Müller.

Vertrekke met “stories” volg mekaar tot in die sitkamer wat soos ’n sprokie uit die Victoriaanse-tydperk lyk. Nee, dis nie room en wit soos verwag nie, maar perskepienk. ’n Stoel wat treffend en helderkleurig deur die kunstenaar Corietha Müller beskilder is, staan knus tussen die ander meubels. Hoewel dit modern is, pas dit perfek by die skilderye en beelde van die bekende beeldhouer Jo Roos.

Die voorstoep is terracottakleurig geverf en sonneblomgeel gemakstoele met vrolike bont kussings is net die plek om ’n laatmiddagskemerkelkie te geniet. Die gastekamer spog met ’n pragtige, bont lappieskombers, gordyne met heldergeblomde ontwerpe en teen die kas en mure hang rokke uit die gasvrou se jeugjare.

Dié kassie het een van Elrine se skilderdoeke geword.
`n Pragtige kelim uit Indië, wat Elrine op een van haar vele reise gekoop het, in kontras met die blou Sjinese porselein is `n pragtige fokuspunt in die sitkamer.

Die rokke pas Die Pos se pragtige model, Allanah Cawood, soos ’n handskoen en sy lyk behoorlik soos ’n sjarmante Coco Chanel in elkeen.

Nou is dit buitekant toe en orals is mure met mosaïek en interessante helderkleurige potte met blomme te sien. ’n Sprokiesmooi, spierwit bougainvillea rank teen die koningsblou muur en slaan byna ’n mens se asem weg.

Die tyd vlieg veels te vinnig verby en ’n mens wil nog langer kuier en net nog gou weer ’n draai deur die huis loop sodat jou oë nog meer van die vrolike bont geniet.

Die gasvrou bied weer geurige koffie aan en maak seker dat ons weer sal kom kuier want, ja, daar is nog baie om te sien en te beleef in hierdie skatkis waarin sy woon.

Exit mobile version