Elke huis is ’n paleis — al is dit klein

“Nylstroom se stof en water is in ons bloed.”

Só vertel San Barnard (83) op die stoep van hul knus eenslaapkamerhuisie by die Waterberg Residentia-aftreeoord in Modimolle waar sy en haar man, Jan (87), sedert April 2021 woon.

Die Barnards is albei gebore en getoё in Modimolle en het vir die grootste gedeelte van hul lewens op die familieplaas gewoon waar San se ouers, ook gebore Waterbergers, met waatlemoene geboer het. Sy is in 1935 in die Nederduits Gereformeerde Kerk in Nylstroom gedoop, later daar aangeneem as lidmaat en in 1959 in dieselfde kerk getroud. Die egpaar se huwelik van 63 jaar was geseёn met vier kinders, 12 kleinkinders en 16 agterkleinkinders.

Hulle oudste seun, Piet Barnard, ook ’n gerekende waatlemoenboer, is op 15 Februarie vanjaar aan Covid-19-verwante komplikasies oorlede. Die ander broers, Jannie en Danie, is ook waatlemoenboere in die distrik en woon albei in Modimolle. Hul suster, Ronel van Heerden, is ’n weduwee wat in Klerksdorp woon.

Die interessante hoekie, met sy pragtige blou Delft-items, in die huis van San Barnard van die Residentia Waterberg-aftreeoord in Modimolle getuig van ’n vrou met baie kunstalent. Sy en haar man, Jan, het in 2021 na die aftree-oord verhuis nadat hulle 14 jaar lank in Bosveldsig gewoon het.

Die Pos het by hulle gaan kuier om uit te vind hoe ’n mens die beste maak van ’n klein huisie in ’n aftreeoord.

Die egpaar het eens op die familieplaas gewoon waar San haar liefde vir tuinmaak kon uitleef. Haar spogtuin is selfs in April 2006 aangewys as die mooiste plaastuin in die Tuinpaleis-tydskrif se jaarlikse kompetisie. Daar is heelwat tuine in die dorp wat deur haar groen vingers uitgelê is.

Soos die jare aangestap het, het die Barnards besluit om na ’n kleiner drieslaapkamerhuis in Bosveldsig in Modimolle te verhuis waar hulle die afgelope 14 jaar gewoon het. Toe haar man se gesondheid begin versleg het, was dit tyd om na ’n aftreeoord met ’n versorgingseenheid te verhuis.

“Ek het hierdie nuwe uitdaging met ywer aangepak en net die nodigste huisware en meubels behou,” het sy gesê. “Ek het nooit juis naaldwerk gedoen nie, maar graag nuwe disse met interessante smake en bestanddele probeer,” het sy laggend vertel.

Deesdae geniet hulle daagliks middagete by die eetsaal.

Die meeste van die meubels is aan die kinders en kleinkinders uitgedeel met net ’n paar hout-items soos ’n boekrak, wakis, klein tafel, twee laaikaste en vier gemakstoele in die sitkamer. Die ruim slaapkamer is ook keurig ingerig.

Buiten die gesellige stoep waar helderpienk begonias uit blombakke tuimel en die winterson soggens inskyn, is die sitkamer haar gunstelingvertrek. Dit is daar waar haar geliefde skilderye met seetonele teen die muur hang saam met ’n paar sentimentele dekor-items uit die Kaap. Die digitale fotoraam met wisselende foto’s van hul uitgebreide familie, was ’n geskenk van haar kinders.

Sy het aan Die Pos verduidelik dat sy ’n Godgegewe talent ontvang het om kreatief te wees sodat sy haar tuin en huis — al is dit klein en eenvoudig — kan mooimaak.

Exit mobile version