Die huis is waar die hart is

Talle bejaardes besef daar kom ’n tyd wanneer dit nie meer moontlik is om heeltemal onafhanklik en selfversorgend te wees nie.

Dan word voltydse versorging, aftreeoorde of ouetehuise oorweeg.

Sophia Harvey (91) het ná meer as 20 jaar in ’n meenthuis in Centurion (Pretoria) besluit om haar in Modimolle te vestig sodat sy naby twee van haar vier kinders kan woon.

Daar het sy in Maart 2021 in ’n splinternuwe eenslaapkamerwoonstel by die Residentia Waterberg-tehuis ingetrek. Die woonstel, wat voorheen as kantoor gebruik is, is vroeg in 2021 omgeskakel en toegerus met ’n en- suite badkamer. Dit bestaan uit twee vertrekke naamlik ’n ruim slaapkamer en ’n oopplan leefvertrek met ’n klein kombuishoekie.

Sy het aan Die Pos vertel dat sy vroeër graag koek en gesondheidsbeskuit gebak het.

“Ek het nou net die minimum kombuisware omdat dit soveel geriefliker is om al my etes by die eetsaal te geniet,” het sy gesê.

Haar stokperdjies sluit lees, tuinmaak, naald-werk, brei en enige ander handwerk in.

“Ek het besef dit is nou tyd om rustig te raak en met dankbaarheid terug te kyk op ’n geseënde lewe,” het sy gesê.

Maar dit beteken nie sy sit stil nie. Sy stap daagliks en doen oefeninge om haar gewrigte en spiere sterk en soepel te hou. Sy loer gereeld in by siek inwoners of inwoners wat nie meer uit hul kamers kan gaan nie.

Hoewel sy vroeër graag gereis en die wêreld gesien het, is dit nou nie meer moontlik nie.

“Soos ’n mens ouers word, krimp jou wêreld tot net jou direkte omgewing. Ek leef nou vir my kinders, kleinkinders en agterkleinkinders,” het sy gesê.

Sy is geseënd met vier kinders, 11 kleinkinders en 14 agterkleinkinders.

Related Articles

Back to top button