Mure, heinings en draad: Dit moet veilig, maar beslis ook mooi wees

Mure, palissade- en draadheinings is deesdae belangrik vir veiligheid, maar met die regte beplanning, kan dit ook bydra tot ’n woning se mooi voorkoms.

Die Bela-Bela-munisipaliteit se bouregulasies bepaal dat ’n heining of muur nie meer as 1,8 m mag wees nie tensy spesiale vergunning daarvoor toegestaan is.

Die heining of muur mag slegs tussen 3-5 m van ’n openbare pad gebou word.

“Die belangrikste faktore wat in ag geneem word is die spasie op die perseel wat vir konstruksiewerk gebruik mag word. Dan volg die styl en afwerkings wat kliënte verkies. Dit sluit in die soort stene, pleisterwerk, deure, vensters, dak en ander afwerkings. Elke kliënt se smaak en behoeftes verskil,” het Michael Masenya, argitek van Activate Consultants & Project Managers, aan Die Pos verduidelik.

“Die huidige ontwerpproses — wat die uitleg en bou van die woonhuis en die heining insluit — word deur middel van gevorderde tegnologie en sagteware gedoen. Die kliënt sien die huis visueel voordat dit gebou word. Ons wys hulle dan die verskillende boustyle wat deesdae in die mode is en hulle maak self die keuse.”

Vir inwoners in ’n kompleks is dit egter nie so eenvoudig nie. Behalwe die bouregulasies van die munisipaliteit, moet inwoners van komplekse ook toestemming van die bestuurskomitee of die ontwikkelaar bekom om te bou.

Hierdie bestuurskomitee dra die belang van al die inwoners op die hart en die estetiese waarde van die ontwikkeling moet behou word. Indien die bestuurskomitee nie toestemming gee tot die wysiging van bestaande infrastruktuur nie, het die eienaar maar min beweegruimte om die verandering te laat plaasvind, het Masenya gesê.

“Elke bouprojek hang af van die persoon se eie smaak en die beskikbare fondse bepaal ook dikwels die keuse van ’n heining. Ons het al gevind dat mense wat buite die raamwerk vir ’n tipiese kompleks wil bou meeste palissadeheinings bo die meer konvensionele baksteen- of sement verkies.”

Masenya sê om goeie buurmanskap te bevorder, moet eienaars die bure in aanmerking neem wanneer hulle besluit om heinings te verander. Dit bly gedeelde grenslyne en albei het dus inspraak.

“In sommige gevalle neem bure mekaar hof toe wanneer daar nie in oorleg opgetree is nie en een van die partye voel dat hul grenslyn of ruimte ingedring is. Selfs die bou van oop ontwerpte symure het al in argumente ontaard.”

Volgens inligting van Du Pree Staal, ’n plaaslike staalverskaffer, is die huidige markprys vir ’n 1,8 m palissade-heining in die omgewing van R550/m². Die woordvoerder het gesê sommige huiseienaars verkies die goedkoper opsie van ’n deursigtige roosterheining (Clearview fencing). Die koste van so ’n heining beloop ongeveer R500/m².

Hierdie pryse is slegs vir die staal en sluit nie die arbeid, stutpale of sement in nie.

Hoewel palissade-heinings vir veiligheid opgerig word, is daar min privaatheid.

Huiseienaars kan die eentonigheid verbreek deur die aanbring van plante of houtplanke tussen die palissade-panele.

Volgens inligting van die Dendrologiese vereniging (vervat uit ’n samestelling van Boomvriende van die Waterberg) aan Die Pos, kan mense struike wat dorings dra vir beter veiligheid aanplant.

Dit sluit onder meer in die rooipendoring, noem-noem of kei-appel wat buite en teen die heining geplant kan word.

Ander gewilde keuses wat nie dorings het nie, is die bosviooltjie, tecomaria, bauhenia-galpinnii en spekbome wat baie goed in ons omgewing aard.

Hierdie plante is egter nie rankers nie, maar kan met die nodige ondersteuning ’n digte buitelaag vir ’n heining vorm.

Plante wat rank, sluit in die hikklimop (Combretum bracteosum), vlamklimop (Combretum microphyllum), sterretjiesjasmyn (Jasminum multipartitum — wat nie met Chinese sterjasmyn verwar moet word nie) en boesmansdruif (Rhoicissus tridentata).

Die ander is blomklimop (Senecio macroglossus), kanarieklimop (Senecio tamoides), black eyed Susan (Thunbergia alata), smalblaarsandolien, soetsneeubal (viburnum), Kaapse kamperfoelie (Honeysuckle), vlam-van-die-vlakte en Australiese waterbessie (Eugenia — uitheems).

Die vereniging se raad is dat huiseienaars meer uitvind of die plante in hul gebied en klimaat sal aard.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version