EntertainmentLifestyle

Bela-Bela se lugruim sal ’n skouspel wees

Vliegtuig-geesdriftiges, adrenalienverslaafdes en lugvaartondersteuners word genooi na die jaarlikse vliegtuigsaamtrek (The Taildraggers Flyin) wat vanaf Vrydag 1 Julie by die Bela-Bela-vliegveld plaasvind.

Hierdie sportsoort was maar die afgelope twee jaar skaars met lugskoue en besoekers wat beperk was, maar gelukkig is alle Covid-19-beperkings nou opgehef.

Volgens Richard Nicholson van die Nylstroom-vliegklub verwag hulle ongeveer 150 vlieëniers wat vanaf Vrydag op die aanloopbaan sal land. Die lugruim oor Bela-Bela beloof om ’n skouspel te wees.

“Die weersvoorspelling beloof aangename weersomstandighede. Die vlieëniers sal die naweek langs die aanloopbaan kampeer en besoekers is welkom om die vliegtuie te kom bewonder. Die 2021-geleentheid was weens die pandemie heelwat kleiner, maar die organiseerders hoop om die skou vanjaar weer tot sy volle glorie te herstel. Daar sal verskeie kosstalletjies wees en besoekers kan verseker wees dat daar iets in almal se smaak sal wees.

Nicholson het gesê die geleentheid word nie as ’n tipiese lugskou aangebied nie omdat dit te kort ná die wysigings van die Covid-19-maatreëls gereël is.

“Al wat belangstellendes moet doen, is om op te daag en die dag saam met ons te geniet. Die toegang is gratis.”

Die saamtrek vind vanaf Vrydag 1 Julie tot Sondag 3 Julie plaas.

Die geleentheid word gehou in samewerking met die Valke-vliegklub van Bela-Bela, asook die Experimental Aircraft Association (EAA).

Hoewel die aanloopbaan aan die munisipaliteit behoort, word dit al jare lank deur lede van die Valke-vliegklub bestuur en onderhou.

Related Articles

Back to top button