Joshua na die Reën sorg vir heerlike vermaak in Mookgophong

Die baie bekende en gewilde Afrikaanse sanger Joshua na die Reën het die inwoners van Mookgophong in bibberende koue weer met sy heuningsoet stem bekoor.

Laerskool Eugène N. Marais in die dorp se gr.7-leerders het die kunstenaar gekry om op Sondagmiddag 5 Junie ’n opelugkonsert by die skool te hou.

“Ons is so dankbaar dat die 210 gaste die koel windjie getrotseer en die fondsinsameling ondersteun het,” het Marina Gravett, skoolhoof, gesê.

Die gaste kon hul eie kampstoele bring en sommiges het komberse gebring om hul teen die koue te staal. Die optrede het om 15:00 begin. Dit was die eerste keer dat dié kunstenaar in die dorp optree.

Daar was stalletjies met eetgoed en koffie en van die plaaslike kunstenaars het hul skilderye en foto’s uitgestal.

Die leerders het self ingespring en gehelp om seile te span om die ergste koue af te weer.

“Dit was ’n heerlike ontspanne Sondagmiddag om saam met vriende en familie te geniet,” het een van die konsertgangers gesê.

Exit mobile version