Lifestyle

Gratis beradingsprogram vir mense wat erge pandemie-spanning ervaar

Die druk en uitdagings van die afgelope twee jaar se pandemie het verskeie mense desperaat en angstig gelaat.

Die Nuwe Lewe-aanbiddingsentrum in Bela-Bela het hierdie nood gesien en beoog om in Februarie ’n gratis program oor verlies en trauma aan te bied.

Die Pos het met Lynette van Wyk, die program se hoofberader, asook Belinda Dippenaar van die Nuwe Lewe-aanbiddingsentrum, gesels.

Die program, bekend as Grief Share, word in meer as 12 000 interkerklike instansies regoor die wêreld aangebied en het talle suksesverhale.

“Die program is ontwikkel vir mense wat geliefdes, vriende of kollegas aan die dood afgestaan het. Dit is vir mense wat egskeidings beleef het of deur misdaad geraak is. Enigeen is welkom om deel te hê aan die program,” het Van Wyk gesê.

“Daar is verskeie fases in die rouproses. Party mense beleef woede, hulpeloosheid of wisselende emosies. Dit is waarom hierdie program in groepsverband aangebied word waar mense wat soortgelyke ervarings beleef het, hul ervarings kan deel om ander te bemagtig.”

Hoewel die program op groepsaktiwiteite fokus, word individuele sessies later oorweeg as die behoefte daarvoor ontstaan.

Die program dien ook as beskermingsnet vir mense wat desperaat is en voel asof daar nie ’n uitkoms in sig is nie, het hulle gesê.

Van Wyk en Dippenaar meen dat die sessies gepas is vir mense wat nie noodwendig kans sien om in ’n formele opset professionele hulp te kry nie.

“Mense kan op hul gemak inskakel, saam video-seminare kyk, aan die groepsessies deelneem en hul gratis handleidings op hul tyd deurwerk.”

Die kursus word oor 13 weke aangebied en daar word beplan om dit weer in Junie of Julie aan te bied. Die program is verkieslik vir persone van 14 jaar en ouer.

Mense wat belangstel kan vir Van Wyk bel by tel. 083 338 9080 of vir Dippenaar by tel. 079 525 3193.

Vir meer meer inligting kan mense die webtuiste www.griefshare.org besoek.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button