Entrepreneurs kan nou aanlyn leer

Die Modimolle-Mookgophong Entrepreneurship Academy het as loodsprojek van die plaaslike owerheid in Oktober 2020 afgeskop om die gemeenskap toegang tot basiese opleiding te bied.

Dit vorm deel van hul opheffingsprogramme om die werklose jeug te bemagtig om hul eie inkomste te genereer deur middel van klein sakeondernemings.

Die kursusse was aanvanklik slegs vir inwoners van Modimolle en omgewing beskikbaar, maar is intussen vir alle Waterbergers oopgestel.

Die akademie is gestig in samewerking met The Startup Tribe, ’n nie-winsgedrewe internasionale organisasie wat met plaaslike munisipaliteite, sakekamers en groot instansies regoor Suid-Afrika saamspan om basiese opleiding aan soveel moontlik mense te bied.

Hulle leuse is “Education and attitude create opportunities.”

Die praktiese aanlynkursusse, wat deur uiters bekwame en professionele mense aangebied word, strek gewoonlik oor 14 dae.

Alle opleiding is gratis sodat niemand die geleentheid om hul volle potensiaal te bereik, ontsê word nie.

Kursusse is reeds beskikbaar in meer as 26 lande en hul doelwit is om teen einde 2022 sowat 12 miljoen mense in meer as 750 stede te bereik.

’n Wye verskeidenheid kursusse is beskikbaar.

Die basiese sakekursusse oor hoe om ’n entrepreneur te word (14 Day Start-up challenge) en hoe om kliente te werf en ’n bestaande kleinsakeonderneming uit te brei, is uiters gewild.

Vir entrepreneurs wat graag die kuberruim wil aandurf, bied Demystifying Digital Tools riglyne om ’n sakeonderneming aanlyn te begin, asook die waarde van sosialemediaplatforms.

Daar is ’n pasgemaakte kursus wat jongmense kan help om te verstaan watter vaardighede en hulpbronne nodig is om hul eie sakeondernemings te begin. Daar is ook opsies om finansiële hulp te bekom om ’n klein sakeonderneming te begin.

Die basiese landboukursus wat strek oor 14 dae poog om voornemende kleinboere te help om ’n kleinboerdery te begin. Dit is tans een van die gewildste kursusse.

Daarmee saam is daar ook verskeie kursusse wat interpersoonlike vaardighede ontwikkel soos hoe om die emosionele en finansiële stres te hanteer wanneer iemand hul werk verloor of deur moeilike tye gaan.

Die Pos het met Elna Mynhardt Brandow van Vaalwater gesels nadat sy in Oktober 2021 een van die entrepreneurskapkursusse voltooi het.

Brandow vertel sy het die kursus uiters leersaam en nuttig gevind, veral die module oor bemarking. Sy sê haar eie sakeonderneming, Reptiel Restaurant, het beslis daarby baat gevind. Sy beveel die kursus vir alle entrepreneurs aan.

Frans Ntshebele het aan Die Pos vertel dat die aanlynkursusse ’n positiewe impak gemaak het sodat hy sy braaikuikenonderneming beter kan bedryf. Ervare sakelui kan ook baat vind by hierdie opleiding.

Frans Botha, eienaar van ’n bemarkingsfirma in Modimolle, het verduidelik dat die basiese sakebeginsels in die kursusse ’n goeie grondslag vorm vir voornemende entrepreneurs, terwyl dit as opknapping kan dien vir ervare sakelui wat weer met vars oë na hul ondernemings wil kyk.

Daar sal eersdaags 12 nuwe kursusse bygevoeg word wat loopbaanbeplanning, hoe om jouself as ’n handelsmerk te bemark, netwerkbemarking, hoe om beleggers te benader, hoe om jou produkte se koste te bepaal, basiese administrasie, en nog vele meer sal insluit.

Besoek gerus die webwerf: www.thestartuptribe.org vir meer inligting.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version