Lifestyle

Waak teen verdrinking in die feesseisoen

Besoekers en inwoners van die Waterberg word gemaan om baie versigtig en oplettend te wees wanneer hulle die komende feesseisoen iewers in die omgewing langs water uitspan.

Met die besonder hoë temperature wat die afgelope twee weke in die omgewing gemeet is, het al hoe meer mense lafenis gesoek naby of in ’n waterbron.

Dit het die gevaar van verdrinking laat toeneem, het Andy Gill, Life24-paramedikus, aan Die Pos gesê.

“Die meeste waterverwante beserings wat veral hierdie tyd van die jaar voorkom, is waar mense ontspan langs die see, damme, waterparke, swembaddens en waterglybane. Selfs visdamme, opblaasswembaddens vir kleuters en emmers met water hou gevaar vir kleuters in wat sonder toesig is,” het hy gesê.

“Verdrinking is die tweede grootste oorsaak van sterftes in die land. Daar is ongeveer 200 volwassenes en sowat 600 kinders wat jaarliks in die land verdrink. Kinders onder 15 jaar maak 30% uit van alle verdrinkings.”

Die faktore wat bydra tot ’n persoon se nalatigheid, of wat kan lei tot ’n fratsongeluk, sluit in: Mense wat nie kan swem nie, geen versperrings rondom waterbronne nie, gebrek aan toesig, mense wat nie lewensreddingsbaadjies dra wanneer hul op damme, riviere en die see vaar nie en drankmisbruik wat lei tot onverskillige gedrag.

Besoekers moet ook kennis neem van waterparasiete, bakterieë of blootstelling aan seelewe, soos bloublasies, wat gesondheids- probleme kan inhou.

Mense moet egter nie die algemene, gly-en-val-voorvalle by waterbronne as minder ernstig beskou nie. Sulke ongelukke kan dikwels lei tot breinbeserings, het Gill gesê.

“Wat ons in die nooddienste meer bekommer, is mense wat amper verdrink en dit oorleef.”

Gill sê slagoffers wat in ongevalle-eenhede beland, kan lewenslange gesondheidsprobleme oorhou omdat hul suurstoftoevoer vir ’n rukkie onderbreek is voordat hulle gered is. “Ons noem dit hipoksie. Wanneer breinweefsel geen suurstof ontvang nie kan die weefsel beskadig word. Dit lei tot geheueverlies of verlies van basiese motoriese vaardighede. By kinders kan dit gebeur dat hierdie soort trauma hulle verhoed om op skoolvlak te presteer,” het Gill gesê.

“Hoe langer die brein sonder suurstof is, hoe groter is die skade.”

Gill se raad om veral na kinders se welstand om te sien sluit die volgende in:

  • Leer kinders swem. • Leer kinders om altyd bewus te wees van wat om hulle gebeur.
  • Trek lewensreddingsbaadjies vir kinders aan wanneer hulle op bote klim of langs groot waterbronne speel.
  • Maak seker dat daar versperrings vir kinders is by waterputte, visdamme, spabaddens en swembaddens.
  • Dit is goed om ’n basiese kursus in noodhulp en lewensredding te deurloop. Dit stel mense in staat om op te tree wanneer daar ’n noodsituasie ontstaan.

Related Articles

Back to top button