EntertainmentLifestyle

Ligte, kameras en aksie by die Kunstegrot

Die Kunstegrot in Thababazimbi het ná bykans ’n jaar se stilte op Vrydag 17 September gasheer gespeel vir die immergewilde aktrise Lizz Meiring.

In “Kameras, kleedkamers en konserte,” die nuutste eenvrouvertoning uit haar pen, vertel sy op haar weergalose wyse van haar wedervaringe as aktrise, regisseur en skrywer ná 50 jaar in die vermaaklikheidsbedryf.

Meiring het op negejarige ouderdom haar buiging as aktrise gemaak toe sy in CJ Langenhoven se “Die vrou van Suid-Afrika,” onder regie van Anna Neethling-Pohl, gespeel het en vandag vertel sy dié verhaal en talle ander op haar unieke pittige manier.

“Dit is nie vreemd vir iemand in die vermaaklikheidsbedryf om 200 keer per jaar te toer nie. Ná omtrent 2 000 produksies het ek besluit om dié stories te vertel,” het Meiring tydens haar vertoning gesê.

“Mense vertel al jare lank stories; dit is hoe ons dinge onthou, dit is hoe ons gebeure oorvertel, dit is hoe ons geskiedenis maak. Selfs al vertel ek my stories en deel ek my eie ervarings, is dit nie moeilik vir ’n mens om jouself, of iemand wat jy ken, in die verhale raak te sien nie.”

Rita Volschenk van die Kunstegrot het by die geleentheid gesê sy is baie dankbaar dat dié gewilde teater weer hul deure kon open ná die uitbreek van die Covid-19 pandemie.

“Ons is baie opgewonde om weer vertonings te kan aanbied nadat die inperkingsmaatreëls aangepas is,” het sy gesê.

“Die laaste vertoning wat ons hier aangebied het, was in November verlede jaar en die blote feit dat ons in dié swaar tye kon staande bly, is ’n sprekende bewys dat Thabazimbi se gemeenskap kan saamstaan. Soos baie ander sakeondernemings het die vermaaklikheidsbedryf oor die afgelope jaar swaargekry en dit in nou belangriker as ooit tevore om ons kunstenaars te ondersteun,” het sy afgesluit.

Related Articles

Back to top button