Local MotoringMotoring

Laaste kans om vir verkiesing te registreer

Suid-Afrikaners wat op Maandag 1 November hul kruisies in hul dorpe se munisipale verkiesings wil trek, moet seker maak dat hulle dié naweek (18 en 19 September) as kiesers registreer.

Dit is veral belangrik dat eerste kiesers en mense wat sedert die vorige munisipale verkiesing verhuis het, moet seker maak dat hul name op die kiesersrol is.

In sommige gevalle het dorpe se munisipale grense ook intussen verander, en daarom stem mense nie noodwendig in dieselfde wyk as voorheen nie — selfs al het hulle nie verhuis nie.

Die nasionale registrasienaweek is geskeduleer vir Saterdag 18 September en Sondag 19 September by die onderskeie stempunte in die dorpe. Die stempunte sal op dié dae oop wees vanaf 08:00 tot 17:00.

Die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) beveel aan dat inwoners hul eie penne na die registrasiepunte bring om die verspreiding van die Covid-19-virus te voorkom. Die OVK het verder versoek dat kiesers hul ID-dokumente moet saambring, ’n masker dra en 1,5 m afstand tussen mekaar handhaaf.

Hulle het gewaarsku dat hulle streng by die Covid-19-maatreëls sal hou en dieselfde van inwoners verwag. Die verkiesingsproses het in Augustus die wind van voor gekry nadat die OVK die grondwethof genader het om die verkiesing na Maart 2022 uit te stel.

Die OVK het die impak van die Covid-19-pandemie op partye en kiesers as redes verskaf in hul aansoek aan die grondwethof. Voorts het hulle gesê politieke partye het nie genoeg tyd gehad vir voorbereiding en werwing nie en dat kiesers weens die inperking nie op openbare vergaderings toegespreek kon word nie.

Nuwe kiesers het ook nie die geleentheid gehad om te registreer nie aan- gesien die beoogde registrasienaweek in Julie nie kon plaasvind nie. Daar is aangevoer dat die geldigheid en regverdigheid van die verkiesing in gedrang is.

Die ANC se versuim om hul potensiële kandidate voor die afsnydatum in Augustus te registreer het landwyd opslae gemaak. Hulle is in der waarheid onkant gevang toe die hof beslis het dat die verkiesing móét voortgaan.

Die kieserslys is intussen weer oopgestel om veranderinge aan te bring en nuwe kiesers by te voeg.

Mense wat op verkiesingsdag uitstedig sal wees, kan vanaf Maandag 20 September tot Maandag 4 Oktober met ’n spesiale stem hul kruisie trek. Kiesers moet vooraf by die OVK aansoek doen vir spesiale stemme.

Bejaardes en kiesers wat gestremd is kan hul naaste OVK-kantoor skakel en reëlings tref om deur ’n OVK-verteenwoordiger besoek te word sodat die registrasie by hul woning gedoen kan word.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button